Sterk leerkultuur
2011-08-09 19:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die reis per pad na landelike Umkomaas is bedrieglik mooi. ’n Mens ry op ’n kronkelende pad, omring deur groen heuwels wat op die skouspelagtige see afkyk. Hierdie is die landstreek waaroor Alan Paton geskryf het. Op hierdie warm oggend in landelike KwaZulu-Natal dink ’n mens daaraan dat die res van die land bewe in die bittere koue van ’n winter wat sy einde nader.
“Alles loop reg, altyd reg,” dink ek terwyl ek saam met raadslede van die Toyota-Stigting reis om een van die skole te besoek wat hulle ondersteun.
Ons ry oor nog een van die talle heuwels en bereik die hek van Dlambula Primêr. Die eerste ding wat ’n mens opmerk, is die pragtige tuin wat deur die kinders gemaak is.
Die skool, wat deur die gemeenskap gebou is, is so stewig as kan kom. Ons sien die elementêre wetenskaptoerusting wat daar is danksy geld uit die gemeenskap.
Ons sien die kinders in hul pragtige bruin uniforms waarvoor die gemeenskap betaal het.
Die sang wat die groepie besoekers begroet, hef die siel op, met die melodieë wat oor die heuwels na die vallei daaronder sweef.
Maar wat die besoeker aangryp, is die gegons in die reghoek van klaskamers wat die skrapse binnehof omring. In elke klaskamer stap ’n onderwyser energiek in die nou gange tussen die rye lessenaars.
In een klas lees kinders hardop vir twee volwassenes. In nog een is kinders verwoed aan die skryf. In ’n derde klas kan ek ’n lewendige vraag-en-antwoord-sessie sien plaasvind.
Uit nog een dra groot seuns potte kos, want dit is amper tyd vir die middagetepouse. Nie ’n enkele kind stap doelloos by ’n klaskamer uit nie. Daar is nie ’n enkele onderwyser in die personeelkamer nie, want daar is nie een nie.
Ek staan nader aan die laerskoolkinders in die koor om vas te stel of hierdie seldsame prentjie van energieke onderwys en leer ’n oëverblindery is.
Ek wil hul taalvaardigheid toets en ek vra hulle dus moeilike vrae in Engels, wat sonder twyfel vir hierdie kleintjies ’n tweede, derde of selfs vierde taal is. Hulle praat beter Engels as van die universiteitstudente uit hierdie streek vir wie ek eens klasgegee het.
Hul woordeskat is omvattend, hul insig en voorgevoel oor die vraagstelling briljant. Die kleinste kind dra die pragtigste storie in Zoeloe voor, ’n gawe waarvoor sy die een of ander prys ontvang het.
Ek stel die wiskundeprobleem: ½ x ¾. Dit is ’n probleem met ’n moeilikheidsgraad bo die graadvlak van die klas waarin ek staan, maar ’n jong meisie spring orent met die regte antwoord. Dit is die selfvertroue van hierdie landelike kinders wat my verras; hul vermoë om sonder die geringste teken van ongemak aan ’n ernstige gesprek met ’n professor van elders deel te neem.
Hier lê die knoop. Die klaskamers is hopeloos oorbevolk, met meer as 60 kinders in die eerste klaskamer waarby ek inloer. Daar is genoeg onderwysers, maar nie genoeg klaskamers nie, so grade deel klasse.
Die soliede sement-klaskamers het dakke wat in die winter lek. Die swartborde is so oud dat die krytskrif daarop skaars leesbaar is.
’n Senior onderwyser praat met emosie van ’n meisie in die skool wie se ma aangerand, beroof en verkrag en wie se liggaam op die spoorlyn geplaas is.
Gelukkig het die treindrywer betyds gestop en is die liggaam voor die komende vergryseling verwyder. Die meisie is steeds in die skool, die oorskot steeds in die dodehuis. Ons sit almal met ’n knop in die keel.
Hoe kan ’n skool so goed, so lewenskragtig wees ondanks die moeilike maatskaplike en ekonomiese toestande in die streek?
Hoe gee ’n gemeenskap van sy laaste sente om ’n skool te bou?
Hoe gaan onderwysers voort ondanks die aaklige traumas wat kinders die skool binnebring vanuit hul gebroke huise?
Hoe staan die kinders telkens op, vasbeslote om nie te swig voor die verwoesting wat hulle omring nie?
Dit is eintlik baie eenvoudig. Wanneer ’n mens die skoolhoof ontmoet, is daar ’n gewaarwording van sterk leierskap. Wanneer jy na sy adjunk en die senior onderwysers (almal vroue) luister, voel jy ’n kollektiewe verbintenis tot eenvoudige dinge aan, soos “die kinders kom eerste”. Die skool is silwerskoon, altyd ’n teken van ’n sterk leerkultuur.
Die voorsitter van die beheerliggaam, ’n eenvoudige man, is ook indrukwekkend want hierdie is sy skool en hy speel ’n sleutelrol om sy leierskorps verantwoordbaar te hou vir die leer wat daar plaasvind.
Die ouers het nie hierdie skool gebou net om agteroor te sit en nie deel te neem aan wat hier gebeur nie.
Daar was geen teken van ’n onderwysvakbond nie.
- Volksblad