SA belofteryke proef
2010-06-02 20:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Dit is ’n situasie wat elke politikus vrees.
Michelle Obama was op besoek aan ’n skool om jong mense te motiveer om op skool te bly en sukses te behaal. ’n Pragtige Latyns-Amerikaanse meisie het skielik die hand opgesteek en haar só onderbreek: “My ma sê jou man wil ontslae raak van mense sonder permitte.” Mev. Obama het vinnig voortgegaan asof die kind nie gepraat het nie: “Ons sal dit moet regstel... Ons sal die dokumente moet kry.”
Maar die kind het haar nie laat stuit deur die stem van die presidentsvrou nie, en weer het haar handjie omhoog geskiet: “Maar my ma het nie die permitte nie!” Die eggenote van die magtigste man ter wêreld het nóg vinniger voortgegaan: “Ons moet daardie probleem oplos, reg so.” Reg so.
Dwarsdeur die wêreld is daar meer as ooit tevore hernude verontrusting oor die vreemdeling, die mens van anderkant die landsgrens, die mens met ’n ander velkleur, kultuur, geloof of kleredrag, die immigrant. Die ander.
In die Amerikaanse deelstaat Arizona kan ’n polisieman nou, bloot op grond van ’n suspisie, jou voorkeer en na jou identifikasie-dokumente vra. Suid-Afrikaners sal soortgelyke “paswet”-optredes uit ons onlangse geskiedenis onthou. Onwettige immigrasie uit die nabygeleë Mexiko is buite beheer, en vir bruin mense, soos hulle genoem word, is dit as’t ware die seisoen om gejag te word. Dit is vernuftige politiek aan die vooraand van plaaslike verkiesings: Onversetlike wit mense met die hoop om verkies te word sal met die speel van die rassekaart die ergste vooroordele by die kiesers ontlok. Die probleem is dat sulke skreiende xenofobie hulle help wen.
Frankryk en België probeer mekaar inderhaas oortref met hul verbod op die boerka, die hoofbedekking wat net die oë sigbaar laat van die Moslem-vroue wat dit dra. Ek sou wou dink dit spruit bloot uit ’n diepgewortelde verbintenis tot openheid binne die Europese demokrasieë, en die erkenning van die feit dat hierdie hoofbedekkings soms die gevolg van manlike voorskriftelikheid is.
Dit kan waar wees. Maar ek vermoed ook dat dié strawwe beperking van dit wat anders is, nie onverwant is aan die vrees vir die onbekende vreemdeling te midde van die herlewing van die fundamentalistiese Islam en die knellende gevolge van die ekonomiese resessie in hierdie lande nie.
Een van die beste boeke oor Westerse vrese vir die vreemde het pas onder die titel The Geopolitics of Emotion verskyn. Dominique Moisi het dit geskryf. Gedagtig aan die bomaanvalle enkele jare gelede, roep hy sy vrese op ’n Londense moltrein in herinnering toe ’n vrou die trein bestyg het, die gesig bedek en met ’n sak byderhand.
Byna al die passasiers het die trein verlaat.
“Die jong vrou het feitlik alleen in haar treinwa agtergebly, en haar alleenheid was simbolies van ons gelyktydige vrees en vooroordeel. Haar sluier het nie net haar deugsaamheid beskerm nie, maar haar ook geïsoleer deur in ons oë iets te skep soos ’n stralekrans van verskrikking wat haar gevolg het soos ’n swewende mynveld.”
Binne dae sal Suid-Afrika sowat 500 000 vreemdelinge uit die buiteland verwelkom. Die meeste van hulle sal wettig hier wees, maar sommige onwettig. Die onderskeid sal, vir eers, nie saak maak nie. Ons sal wettige en onwettige besoekers hartlik ontvang en met aangebore koorsagtigheid inkoop in die massiewe bemarkingsveldtog. Drie weke lank sal ons vergeet dat dit vreemdelinge is, en onder hulle mense wat afkomstig is van lande wie se burgers ons in xenofobiese woede aangeval het.
In hierdie stadium moet ons vriendelik wees. Ons het hulle nodig om ons hotelle en huise te beset, om ons produkte te koop en in ons land te belê.
Ek sal saam met miljoene ander ons broers en susters verwelkom. Ons sal en moet hulle omarm met ’n aanskoulike vertoning van broederskap en susterskap rondom die grootse spel sokker.
Maar met hul vertrek moet ons die omhelsing handhaaf – nie vanweë die geld wat hulle na ons land bring nie, maar vanweë die medemenslikheid wat ons deel.
Dan, en slegs dan, sal hierdie wêreldfees van ons almal beter burgers maak van die wêreld en van hierdie steeds belofteryke proefneming genaamd Suid-Afrika.)?Prof. Jansen is rektor van die Universiteit van die Vrystaat.
- Volksblad