Rooitaal word ’n vrypas
2011-03-24 07:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Voor my is drie onlangse koerantberigte wat die stand van onderwys in Suid-Afrika volmaak weerspieël.
Die eerste verwys na die Congress of South African Students (Cosas), wat sy ondersteuners, daardie “onskuldige” leerlinge in skole wat nie die mas opkom nie, aanraai: “As ’n onderwyser jou slaan, slaan terug.”
’n Dag later steek ’n leerling ’n onderwyser met ’n mes en moet die onderwyser in die waakeenheid van ’n hospitaal in Soweto opgeneem word. Die tweede verwys na ’n verklaring deur die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) in Gauteng: “Die LUR vir onderwys, Barbara Creecy, is ’n satanis wat uit haar pos verwyder moet word.”
Die derde verwys na ’n klomp studente van die Mediese Universiteit van Suid-Afrika (Medunsa) wat die minister van hoër onderwys en opleiding verskreeu het. Hy het sy toespraak opgeskort weens die skellery van toekomstige geneeshere en gesondheidswerkers.
Ek kan nie dink aan nog ’n land ter wêreld waar ’n mens sulke walglike en vernederende taalgebruik in aanvalle op onderwysers en onderwysleiers sal hoor nie. Baie van ons mense het ongevoelig geraak vir vernederende en gevaarlike openbare diskoerse, sodat sulke taalgebruik in sommige kringe selfs as “snaaks” beskou word. Ek twyfel nie dat sommige mense met sulke taalgebruik probeer om die aandag op hulself te vestig nie. Dink maar aan hoeveel staatsamptenare en senior politici met die sing van geweldsliedjies die hoogste poste bereik het.
Dít is die konteks waarin die neerhalende taalgebruik van Jimmy Manyi of Kuli Roberts verstaan moet word. Wat hulle kwytgeraak het en hoe hulle dit gedoen het, strook met en is niks anders nie as die rioolstyl wat ’n kenmerk van openbare debat in Suid-Afrika geword het.
My grootste kommer met die onlangse ontwikkelinge en die rioolpraatjies in die onderwys is dat dit normatief raak: Dit raak in skole en in die samelewing heeltemal normaal en aanvaarbaar om neerhalend oor ander te praat, om onderwysgeboue in die naam van die vryheidstryd te vernietig, en om senior amptenare en akademiese geleenthede na willekeur te ontwrig.
Vir sommige universiteite is dit te laat om die situasie te beredder. Instellings soos die Walter Sisulu-universiteit van Tegnologie, die Universiteit van Zoeloeland en Medunsa verkeer in ’n blywende staat van anargie. Hierdie universiteite begroot jaarliks vir verliese van miljoene rande weens die aftakeling van geboue deur studente. Hulle boet dae en soms weke in weens gedwonge universiteitsluitings bloot om die skade te beperk wat studente aan kampusgeboue aanrig.
Min mense besef hoe gereeld, voorspelbaar en duur hierdie chaos geword het.
Ek het dit al tevore gesê en wil dit weer sê: Hierdie instellings is nie ware universiteite nie. Hulle is die politieke vergaderplekke vir arm, wanhopige en oorgepolitiseerde jong mense wat as halfgeletterdes deur gr.12 geskraap het sonder enige kans om werk te kry, selfs al verwerf hulle ’n niksseggende graad van enige van hierdie instellings.
Al wat ’n mens in hierdie verskriklike omstandighede nodig het, is boewe wat hulself vanaf die kampusgrense as werktuie vir politieke partye voordoen en wat die jong mense bloot beskou as kanonvoer vir die enigste ander verkrygbare kwalifikasie: ’n kortpad na die politiek, waarlangs ’n student wat geen kans op indiensneming het nie, as lakei van ’n politieke party in ’n japtrap toegang kan kry tot mag, status en geld. Hoe skandaliger jou gedrag, des te groter is die kans om status en mag te verwerf, ’n sitplek in die parlement ingesluit.
Ek kan aan talle individue dink wat in die afgelope dekade namens hul vakbond ’n terreurbewind in skole gevoer het en nou in die parlement sit sonder dat ’n mens ooit weer van hulle hoor. Missie vervul.
Die enigste manier om hierdie chaos te beëindig is met sterk leierskap van bo. Dit is noodsaaklik dat pres. Jacob Zuma vir jong mense op skool en universiteit sê dat hierdie chaos summier moet ophou, en dat baie streng opgetree sal word teen diegene wat universiteitsgeboue bly afbrand en besteel.
’n Student wat ’n gebou op die kampus afbrand, mag nooit weer toegelaat word om aan enige Suid-Afrikaanse universiteit te studeer nie. Uit en gedaan.
Die versuim van die hoogste gesag om op te tree teen hierdie chaos en anargie wat aan universiteite hoogty vier, sal vir ons almal rampspoedige gevolge inhou.
Dit is net ’n kwessie van tyd voordat ook plekke soos die Universiteit van Stellenbosch, die Universiteit van Kaapstad of die Noordwes-universiteit die slagoffers word van hierdie soort plundering van ons instellings vir hoër onderwys.
- Volksblad