Meng jou met semels
2011-06-21 20:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
‘Hoe moet ek groepsdruk hanteer?” wou ’n angstige student onlangs weet op ’n leierskapseminaar wat by Kovsies vir die intelligentste gr. 12-leerlinge in die land aangebied is.
“Dis maklik,” het ek geantwoord, “kies die regte portuurgroep.”
As daar een ding is waarvoor ek my ouers dank verskuldig is, is dit dat hulle seker gemaak het ons is omring deur jong mense wat ons opgehef het.
As ons hard gestudeer het, het ons vriende nóg harder gestudeer. As ons met rotsvaste waardes grootgemaak is, was dit des te meer waar van ons vriende.
As ons gelei is om goeie lewenskeuses te maak, het ons vriende die leiding geneem. Dít is die geheim van kinders grootmaak: Omring hulle met ’n goeie portuurgroep.
Ons maats was nie ryk nie; hulle was middelklas-kinders net soos ons. Maar hul ouers het dieselfde waardes as myne gehad.
My gunsteling-spreekwoord in Afrikaans verwoord dié waarheid treffend: “Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou.”
As kinders hulle bevind tussen ander wat uit gewoonte vloek, hul ouers uitskel wanneer hulle aangesê word om iets te doen, neerhalende uitsprake oor ander mense (soos gestremdes) maak, volwassenes se gesag in die wind slaan, en steel en bedrieg wanneer niemand kyk nie, is dit vir sulke kinders baie moeilik om in hul latere lewe goeie vriende te kies.
Wanneer die regte grondslag gelê is, word jou kinders groot met die emosionele, geestelike en intellektuele vermoë om goeie vriende te kies.
Enige onderwyser sal jou sê dit is nie moontlik om kinders van slegte invloede binne of buite die skool te isoleer nie.
Wat ’n mens wel kan doen, is om hulle toe te rus met die vermoë om slegte keuses en ’n slegte portuurgroep te weerstaan.
Namate jong mense volwasse word, trek hulle maats aan wat sukkel om goeie besluite te neem. Só word hulle leiers wat die vermoë het om jong mense wat in nood is, te help om goeie besluite te neem.
Dít is die belangrikste taak van onderwysers en gemeenskapsleiers: Om vroeg jong mense te identifiseer wat die vermoë het om in die toekoms leiding te gee.
Dit is ons verantwoordelikheid om in hulle te belê en hulle te plaas in posisies waarin hulle leiers kan wees.
Elke skool en universiteit behoort ’n leierskap-akademie te hê vir die vorming van toekomstige leiers. Maar watter soort leiers?
Ons het heel eerste jong leiers nodig wat buite hul vel kan dink. Dit beteken ons moet leiers voorberei wie se primêre verbintenis nie tot ’n stam, taal, streek of selfs godsdiens is nie. Hulle moet in staat wees om diegene wat anders lyk en glo te omarm – sonder om oor hul skouer te kyk vir die goedkeuring van hul stam.
Ons het jong leiers nodig wat onverskrokke kan optree ten opsigte van die neteligste kwessies in ons gemeenskap.
Dit beteken leiers met integriteit wat standpunt kan inneem op grond van ’n beginsel en nie vir persoonlike gewin nie.
Ons het jong leiers nodig wat brûe oor die skeidslyne van die verlede kan bou.
Hulle moet gemaklik wees om mense uit Bishop Lavis en Bishopscourt bymekaar te bring, en hulle moet in staat wees om mense van Kenilworth met mense van Khayelitsha in gesprek te bring.
Ons het jong leiers nodig wat dinge kan laat gebeur, selfs met groot hindernisse en teenkanting.
Ons benodig “ons kan”-leiers wat skole of die gehalte van gesondheidsdienste kan verbeter of die slaggate in arm woonbuurte kan laat herstel.
Ons het jong leiers nodig wat die deugde van opofferende leierskap kan uitleef. Dit is leiers wat bereid is om hulself vir hul volgelinge te offer.
Dit is anders as leiers wie se enigste oogmerk die vinnigste moontlike volmaak van hul sakke is terwyl hulle die septer swaai.
Dit is nie genoeg om te kla oor die leierskapkrisis in ons samelewing nie; dit is belangrik om uit die geledere van ons jeug plaasvervangende leiers voor te berei.
- Volksblad