Luister na ons jong mense
2010-09-08 23:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
By die Universiteit van Kaapstad (UK) het ’n storm losgebars oor of ras ’n kriterium vir toelating moet wees.
In die geval van die mediese fakulteit gebruik die universiteit verskillende toelatingskriteria vir wit en swart aansoekers en tref hy onderskeid in die slaagsyfers vir Indiër-, bruin en swart studente.
Die rektor, dr. Max Price, hou voet by stuk dat dit die beste beskikbare metode is vir regstelling tussen rasse.
Sy felste teenstander, dr. Neville Alexander, voer die teendeel aan, naamlik dat rasse-etikette in ’n demokrasie ná apartheid meer kwaad doen as goed.
Die ironie van die twee beskouings is op sigself interessant: ’n wit man wat rasseregstelling verdedig, teenoor ’n swart man wat dit kritiseer.
Die vraag gaan natuurlik nie oor rasseregstelling as sodanig nie.
Al ons instellings, en veral die UK, moet die skade van die verlede ongedaan maak – nie net wat betref die rassedemografie van die studentekorps nie, maar veral ook wat betref gelykberegtiging in die personeelgeledere.
Die kernvraag in die UK-debakel is of ons die onregte van apartheid kan regstel deur ons tot die rassekategorieë van die verlede te wend.
Ek kan my nie iets meer bisar voorstel nie, want die manier waarop die UK die kwessie benader, is die beste manier om apartheidsdenke lewend te hou.
Soos die kritici van die UK se beleid tereg aanvoer, is die gebruik van ras as toelatingskriterium betekenisloos in die voorstedelike ekonomie van dié instelling waar die top- akademiese skole al langer as twee dekades swart studente toelaat.
Dit beteken dat die swart leerlinge van skole soos Bishops, Westerford of SACS nou minder waarskynlik eerstegenerasie-universiteitstudente is as wat die geval meer as tien jaar gelede was.
Dié kinders is nie benadeel nie, ten minste nie opvoedkundig of materieel nie.
Al hoe meer van hierdie swart studente se prestasies is onder die boonste 10% van hul klasse.
Dis verregaande om sulke studente te bevoordeel in toelating tot ekonomiese of mediese studie aan die UK.
Party sal sê benadeling behels meer as die skool wat jy bywoon of jou ouers se finansiële posisie.
Benadeling is ook sielkundig en skep hindernisse wat bestaan lank nadat materiële verskille tussen wit en swart opgehef is.
Dít vind ek, kortweg gestel, ’n swak redenasie in die geval van middelklasse van watter kleurgroepe ook al.
Alle jong mense sukkel met selfvertroue; arm kinders meer as diegene uit welgestelde huise. Alle jong mense vind die aanpassing by die universiteitslewe moeilik, veral dié wat dit nie breed het nie. Swart kinders van welgestelde huise vaar ewe goed as wit kinders uit soortgelyke omstandighede. Wat is dan die probleem?
Die probleem is stand, nie ras nie. Daar is ’n baie groter gaping (in terme van hulpbronne, vertroue en universiteitsvoorbereiding) tussen ’n swart student van Khayelitsha of Manenberg in die Kaap, en ’n wit of swart student van Wynberg- Seuns- of MeisiesHoër.
Dit maak saak waar jy gestudeer het, waar jy leef, waar jou ouers werk en of daar rekenaars en boeke in jou huis is.
Studente se pigmentasie is, om eerlik te wees, irrelevant.
Wat intellektuele soos Neville Alexander besef, is dat die behoud van daardie vier belaglike rassekategorieë ’n voorskriftelike handeling is.
Dit selekteer nie net studente vir toelating tot een van Suid-Afrika se mees toonaangewende universiteite nie, maar dit bepaal ook hoe jong mense oor hulself en andere dink.
Rassekategorieë orden die wêreld vir studente net soos daardie kategorieë dit vir die studente se ouers in die jare voor 1990 gedoen het.
Dít is die groot bedreiging vir maatskaplike transformasie in Suid-Afrika.
Toe die studenteleiers van die Universiteit van die Vrystaat (UV) my onlangs gespreek het, het hulle gevra dat ons met rassespesifikasies in die keuse van koshuise se huiskomitees wegdoen.
As iemand wat in die apartheidstelsel grootgeword het, was ek huiwerig, want studente is geneig om leiers te kies wat soos hulle lyk.
Dit hét in sommige gevalle gebeur, maar daar was heelwat meer goeie nuus.
Die koshuis Emily Hobhouse het die eerste keer in sy geskiedenis ’n swart primaria gekry.
Ons moet na ons jong mense luister.
- Prof. Jansen is rektor van die UV.
- Volksblad