Diepe liefde vir ons land
2011-01-25 21:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Wat het ’n Boerseun van Tamboerskloof, ’n Franse vrou van Toulouse en ’n jong man van Manenberg gemeen?
’n Diepe liefde vir hierdie land en ’n vasberadenheid om voet te slaan vir vrede.
Ek het Johannes Loubser verlede jaar op Versoeningsdag ontmoet nadat ’n roerende seremonie in Kaapstad in die St. George-katedraal gehou is en in die Kompanjiestuin-sinagoge en daarna in die Langstraatse moskee voortgesit is.
’n Moslem- vroulike student van die Universiteit van Kaapstad het in die katedraal oor versoening gepraat. Ek het in die sinagoge gepraat en Dennis Davis (van die Joodse geloof), aanbieder van die televisiereeks You Be the Judge, in die moskee.
Op die katedraaltrap is aangekondig dat Johannes voornemens is om kaalvoet van Kaapstad na Johannesburg te stap om die gemeenskap bewus te maak van die noodsaak vir eenheid en vrede in ons land, en om geld in te samel vir sy liefdadigheidsorganisasies wat hulle hiervoor beywer.
Nie lank daarna nie het ek hom êrens in die omgewing van De Doorns teëgekom, moeg en uitgeput van die stap noordwaarts op ’n bloedig warm dag.
“Hoekom kaalvoet?” het ek hom die afgelope naweek gevra kort ná sy aankoms in Bloemfontein.
“Dit is ’n teken van toewyding aan die saak en ons land. Dis nederigheid vergestalt.”
Ek sluk swaar aan Mugg & Bean se wors, skaam omdat ek so dikwels oor vrede en versoening praat, terwyl hier ’n man is wat met sy lewenswyse daagliks opofferings maak.
Sy makkers is ewe indrukwekkend.
Die Franse vrou, wat met skoene stap, is eweneens toegewy aan die saak van internasionale vrede.
Die man van Manenberg ry vooruit om plek-plek langs die pad hul tente op te slaan, waarna hy terughardloop om hom by die stappers aan te sluit.
Sy ma is ’n alkoholis wat as bergie op die strate van Soutrivier swerf en sy biologiese pa was in die tronk.
“Daar is iets diepers in ons waarna ons moet streef,” berispe hy my saggies toe ek hulle na hul basiese behoeftes, soos werk, geld en gesin, vra.
Al drie het regsgrade, maar hulle het met dié opoffering vir die land daarvan afgesien om welvarende prokureurs te word.
Johannes se geld het opgeraak; en hoewel sy vrou ondersteunend was, is daar spanning in hul huishouding.
Sy bekommer haar oor die huis, kos en kinders, selfs al het sy begrip vir die groter saak waaraan haar man hom toegewy het.
“Wat het julle op hierdie staptog van Suid-Afrika geleer,” vra ek. Hulle vertel hoe gewone mense hul huise vir hulle oopgemaak en hulle kos gegee het toe hulle langs die pad gevra het of hulle op die gras buite die huis kan tent opslaan.
Hulle vertel van ’n arm plaasarbeider op Touwsrivier wat in sy leë beursie rondgekrap het op soek na geld om vir die kaalvoetstapper te gee.
“Ons het ubuntu gesien oral waar ons gegaan het.”
Hulle vertel van eienaars van gastehuise in die Karoo wat goedskiks vir hulle slaapplek aangebied het.
Hulle is terdeë bewus van die ander drama in die Karoo waarin twee Franse burgers dood is in ’n skietgeveg met die polisie nadat ’n polisieman deur die twee doodgeskiet is.
Die warm, byna smeltende teer van die N1 braai en vreet Johannes se voete.
Hy moet voor en ná ’n dag se stap spesiaal behandel word.
Deurentyd bestaan die gevaar dat ’n roekelose motorryer hom sal raak ry.
En hy en sy makkers kan maklik aangeval word in die ooptes waar van veiligheid geen sprake is nie. Maar hulle bly vasberade om te stap vir vrede in Suid-Afrika.
“Wat doen julle al daardie ure wat julle alleen op die pad is?” wil ek weet. Hulle is diep geestelike mense. Johannes bid die meeste van die tyd en fokus op sy doelwit. “As jy nie gefokus bly nie, gaan jy seerkry,” verduidelik hy.
Die Boerseun en die Franse vrou praat ure lank, maar soms val een ’n bietjie terug sodat hulle alleen kan wees.
Dan die skok: Hulle vas dikwels vir twee dae of meer tydens hulle staptog. “Ek hoop darem julle drink water,” sê ek onnodig.
Ná ons ontbyt is hulle reg vir die pad Johannesburg toe. Hulle lyk glad nie moeg nie; elk se gelaat straal van die vervulling van ’n betekenisvolle lewe.
Wie tot Johannes Loubser se Vredestog wil bydra, kan “SMILE” teen R15 na 39005 SMS. Meer inligting is by www.peacewalk.co.za verkrygbaar.
- Volksblad