Dié kêrel is spesiaal
2010-11-17 21:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Ek sal die duiwel graag die een of ander tyd wil ontmoet. Dié kêrel is spesiaal. Hy dra die skuld vir alles. Hy is nie net oral verantwoordelik vir algemene boosheid nie; hy is ook die oorsaak van spesifieke euwels, soos wedstrydknoeiery in krieket, geweld in skole, egskeidings in gesinne, en tsoenami’s in Asië.
Waar ek op die Kaapse Vlakte grootgeword het, het die broers en susters van ’n meer charismatiese oortuiging Die Bose Een se naam aan elke denkbare onheil gekoppel. Daar was die “griep-duiwel” wat vir elke simptoom van griep pa gestaan het; die “lag-duiwel” vir iemand wat aanhoudend lag en, my groot gunsteling, die “skinder-duiwel”, hoofsaaklik vir vroue wat nie die versoeking kon weerstaan om oor mede-gelowiges te praat nie.
As ek Satan was, sou ek teen hierdie tyd al taamlik gebelg gewees het. Per slot van rekening, kan hierdie bleddie mense dan nie begin verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie optrede nie? Moet ek regtig geblameer word vir die ongeluk wat veroorsaak is deur die man wat besluit het om homself sinneloos te drink en dan met sy kar tussen ’n groep kinders in te jaag?
Jy het sekerlik agtergekom dat ek al geruime tyd twyfel – nie of die Slang regtig bestaan nie (as die Bybel dit nie duidelik gemaak het nie, sou ek nie geglo het hy is in die rondte nie), maar of hy nie tot sondebok gemaak word vir te veel dinge waarvoor ons as mense verantwoordelikheid behoort te aanvaar nie.
’n Ouer kan nie ’n kind ’n groter geskenk gee nie as die vermoë om te sê: “Ek was verkeerd. Dit was ek wat dit gedoen het. Ek is jammer.”
Tog is dit nie na die aard van die mens om ’n fout te erken nie.
Dít is die tema van ’n uitstekende boek deur Carol Tavris en Elliot Aronson, Mistakes Were Made (but not by Me).
En dit is presies die rede waarom ouers by uitstek die dure plig het om hul kinders te leer om verantwoordelikheid te aanvaar.
Soos met alle morele lering is die beste manier om dit te doen deur in en om die huis te wys hoe om jammer te sê.
’n Seun wat hoor hoe sy pa opreg sy vrou verskoning vra, sal hierdie gawe in sy eie lewe uitleef. Maar die teenoorgestelde is ook waar: ’n Kind wat getuie van sy ouers se selfverloëning is, sal in die moeilikheid beland namate hy ouer word.
Dié gedagtes het die laaste paar dae by my opgekom terwyl ek nagte aaneen gesukkel het om te slaap nadat ek verneem het van die beweerde verkragting van ’n graad 8-leerling by die Hoërskool Jules in Jeppes-town, Johannesburg.
Ek kan deur ’n storm slaap, maar dit het my gewalg.
Hoe is dit moontlik dat hoërskoolleerlinge nie alleen die beweerde verkragting van die meisie, blykbaar halfbewusteloos weens die een of ander dwelmdop vir ’n afspraakverkragting, dopgehou het nie, maar die voorval op hul selfone vasgelê het?
Die volgende dag is die skooleksamens ongesteurd hervat, asof niks gebeur het nie.
Iets het diep, diep in ons samelewing uitgerafel.
Dit lyk of ons alle morele bewustheid en verantwoordelikheid prysgegee het.
Niemand het na vore getree om sy aandeel te erken in wat dui op ’n veragtelike misdaad nie. Selfs al was dit, soos sommige beweer, konsensuele seks tussen skoolkinders, van wie sommige besope was, hoe gebeur dit in skooltyd op die terrein van ’n plek vir onderrig?
Wat my ontstig, is nie soseer die beweerde verkragting deur skoolseuns nie; dis erg genoeg.
Wat my laat wakker lê, is dat onder die talle kinders wat dié verskriklike gebeurtenis dopgehou het, nie één bereid was om na vore te kom nie en te sê: “Ek was daar. Ek het nie hulp gaan soek nie. Ek was deel van die aaklige gebeurtenis daardie dag by die Hoërskool Jules.”
Ek is seker daar is ’n ingewikkelde psigologiese verduideliking vir massagedrag by aanskoue van boosheid.
Maar op die oomblik vind ek dit moeilik om sulke akademiese twak te aanvaar.
Dit is ménslike wesens hierdie wat dieontmensliking van een van hulle, ’n graad 8-meisie, gadegeslaan het.
Dit is hoe ek oor die duiwel begin dink en skryf het.
Miskien is sommige dade só boos dat hulle nie in menslike terme verklaar kan word nie.
Miskien is dit my manier om die trauma te hanteer wat sulke kennis meebring.
Ek moet dringend ’n bonatuurlike verklaring vind ter behoud van my geskokte geloof in die menslike spesie. Dalk was dit tog die duiwel.
- Volksblad