Absa moet geprys word
2010-10-06 22:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
EK was lugtig oor die uitnodiging om verlede week repliek te lewer op die eerste Ahmed Kathrada-gedenklesing deur adj.pres. Kgalema Motlanthe. Aanvanklik het ek gedink die uitnodiging is ’n fout. Ek is immers die eerste rektor in die geskiedenis van Suid-Afrika wat deur die kabinet veroordeel is, en wel weens die besluit om die geskorste Reitz-studente te nooi om hul studie aan die Universiteit van die Vrystaat te hervat.
Agter die verhoog het ek my bevind saam met van ons vooraanstaande en ordentliker politici: Cyril Ramaphosa, Ahmed Kathrada en sy gade, die minister van openbare ondernemings, me. Barbara Hogan, en Lula Chiba, ’n groot aktivis wat heelwat vir ons demokrasie opgeoffer het.
Maar ek kon die skraal, fier, goed geklede en opmerklik pragtige ouer vrou nie eien nie.
Toe betree ons die verhoog om hulde te bring aan ’n man wat ons op die strate van die Kaapse Vlakte verafgod het.
Hy was die derde in ’n sin: “Nelson Mandela, Walter Sisulu, Ahmed Kathrada...”
Dié driemanskap was die vergestalting van een van die kragtigste uitsprake van nierassige solidariteit; drie mense van oor kleurgrense heen, verenig in hul stryd om geregtigheid.
Die adjunkpresident het ’n briljante toespraak gelewer, met geskiedkundige insigte oor hoe dit die Kommunistiese Party was wat in die “swart” ANC die universele waardes gevestig het wat die beweging na nierassigheid bevorder het. Die draak waarmee die NP blanke kiesers afgeskrik het, was ’n wegbereider vir die Vryheidsmanifes se sentrale tema:
Suid-Afrika behoort aan almal wat in hom woon, swart en wit.
Ek het gewaarsku dat dit nie die amptelike beleidsrigtings van die regering en die ANC is wat nie-swartes afskrik nie, maar wel die subtiele boodskappe oor aan wie die land behoort; die bedreiging van blanke boere, die rassekriteria vir universiteitstoelating, die praktyk van werkreservering en die boodskap dat die vryheidstryd “veral oor swartes” gaan.
Natuurlik moet ons die onregte van die verlede regstel.
Ons het geen ander keuse nie as om vir alle Suid-Afrikaners die geleenthede te verruim om deel te neem aan die politiek, ekonomie, kultuur en sport.
Dit is wat my so briesend maak van die blanke regtervleuel se aanval op Absa oor die vraag na die groter insluiting van alle Suid-Afrikaners in sport.
Skielik wil ’n luidrugtige klomp regses hul bankrekeninge na ’n ander bank oorplaas.
Onder hierdie raserige groep beswaarmakers is geen besef dat rugby wit is weens die rassevoorkeur van die verlede nie.
Ons put tans uit ’n beperkte talentpoel van jong mense en sal nie regverdigheid laat geskied of ons beste bereik nie indien ons nie álle Suid-Afrikaners aanmoedig om in rugby verteenwoordig te wees nie. Absa behoort geloof te word, nie bespot nie, en ek hoop die bank hou voet by stuk.
Tog was die punt wat ek eintlik teenoor die oorwegend ANC-gehoor wou maak dat dit van die uiterste belang is hóé ons die onregte van die verlede regstel.
Dit is vir ons nodig om blanke gemeenskappe en veral die blanke jeug te laat voel dat Suid-Afrika eweneens aan hulle behoort en dat hulle ’n deurslaggewende rol te speel het in die heropbou van die land in die nadraai van kolonialisme en apartheid.
My argument was dat ons nooit gedwing moet word om tussen versoening en herstel te kies nie.
En – het ek aangepor – ons behoort nie ag te slaan op die behoeftes van die ekstremiste in die blanke gemeenskap nie, soos dié van Orania of mnr. Eugene de Kock in Pretoria-Sentraal.
Dit is die gewone landsburgers, in die Suid-Afrikaanse middelgrond, wat oortuig moet word dat hulle ’n ontwikkelingsrol te speel het.
Toe het die skraal, goed geklede, pragtige ouer vrou na die podium gestap om die dankwoord te betuig. Sy is voorgestel as Sophia de Bruyn, wat in 1956 as 19-jarige kleurlingvrou (in die taal van destyds) saam met drie ander die verpersoonliking van nierassige solidariteit was toe hulle teen die trap van die Uniegebou opgemarsjeer het om teenoor adv. J.G. Strijdom, die destydse premier, protes aan te teken teen die immoraliteit van apartheid.
Ek het opgespring en my held omhels:
’n Vrou van Port Elizabeth wat nie geskroom het om haar lewe in haar land én in ballingskap te offer sodat ons vandag vry kan wees nie.
- Volksblad