Wys reklame op TV dat ook sepies swoeg?
2012-01-29 21:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Hennie van Coller
VERSTROOIINGSPROGRAMME op TV – selfs sepies – kry deesdae skynbaar swaar. Dit is enigsins verbasend, want honderdduisende mense sit elke dag vasgenael voor die TV. Van my kollegas erken onbeskaamd dat hulle daagliks meerdere sepies slaafs volg “sodat hulle darem ook tyd saam met Mammie kan deurbring”.
Ons studentegetalle vir ons niemoedertaalkursusse in Afrikaans het in die afgelope jare dramaties gestyg. Een van die redes is dat voornemende studente wat Afrikaans swak of glad nie magtig is nie, gereeld na 7de Laan kyk en graag die Afrikaans wil volg.
’n Mens sou dink dat die reklameflitse ruimskoots vergoed vir die hoë salarisse wat betaal moet word aan akteurs wat mettertyd sinoniem met hul rolle raak. Want jy het jou net reggeskuif, jou drankie rondgeskommel of daar is al weer ’n advertensiegleuf. Gewoonlik tot my frustrasie in Engels of anders in “baksteenafrikaans”: net so lelik, swak aanmekaar gesit, vol oneffenhede en – sonder pleister – slegs goed genoeg vir die ashoop. Die pleister of versiering van Afrikaanse advertensies lê gewoonlik opgesluit in platvloerse humor, uitpeulende meisies of draakstekery met agter-die-klip Afrikaners.
Maar waaruit ek kan aflei dat die geldinkomste uit hierdie hordes advertensies nie genoeg is nie, is uit die reklame wat deesdae in programme voorkom.
Kyk jy na “Boer-soek-’n-vrou”, sien jy ’n wulpse meisie wat met ’n pruilmondjie vertel van die “stunning programme op kykNET” (die vervaardiger van die reeks!). Stap nog so ’n welbedeelde dame weg saam met die boer-in-die-visier om “kwaliteittyd” met hom deur te bring, giggel sy eers idioties en sê dan aan die arme nooi wat eensaam agterbly “gaan kyk solank na kykNET, daar is súlke goeie programme”.
In 7de Laan gaan dit eers woes. As dit nie die nuwe CD van die een of ander sanger is wat aan die groot klok gehang word nie, is dit die debuutroman van die een of ander skrywer met ’n vol beursie (want vir reklame moet jy hoes!).
Dan was daar die een of ander gesondheidsproduk met “natuurlike bestanddele uit Duitsland” wat tot vervelens toe aan kykers opgefysel is. Ek het reikhalsend uitgesien dat ’n paar van die wroegendes wat voortdurend met ’n gekwelde uitdrukking in die lug staar van hierdie wondermiddel moet inkry.
Maar dit kán erger: “Hier volg die nuus, gelees deur Riaan Cruywagen. My das is geborg deur X, my onderbroek deur Y...”
- Volksblad