Wonderlike mense van SA roer jou
2010-05-04 21:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Ou boetie, wat moveer jou nou eintlik?
“Ja, meneer, hier kan dit morsig warm raak,” sê die vrou.
Haar groep het pas voor die NG kerksaal in die hitte van Clanwilliam die riel getrap dat elke lid van die gehoor saam oe!
En aa!
En selfs koppie maak as die dans van die volstruis na paar se kant toe begin staan.
Tussen die heerlikhede van die fees kom Leipoldt se woorde by my op:
Maar boetie, wat moveer jou? En? Ek probeer al die warboel-beelde van die fees in ’n kophok jaag.
Wat is dit van die Cederbergfees wat my telkens so moveer?
Is dit dat daar ’n plattelandse eerlikheid in die belewenis van alles is?
Is dit dat die mens met vars oë kyk na dinge wat stedelinge as vanselfsprekend aanvaar?
Neem nou maar die aantreklike vrou wat leergoed by ’n stalletjie verkoop.
Sy trek nie haar neus op vir ’n man wat handsak soek nie.
Verstaan gou dat ’n man deesdae met ’n selfoon, beursie en karsleutels net nie meer genoeg broeksakke het nie.
“O, ’n moffiesakkie,” sê sy ondeund.
“Ja, hulle het daardie probleem al jare gelede uitgestryk.
“Nou dra al hoe meer mans handsakke.
“Maar hy moenie te groot wees nie.”
Ek vra ernstig:
“Weet jy waarom kry die Amerikaners nie vir Osama bin Laden nie?”
“Nee.”
“Hy kruip in ’n vrou se handsak weg.
“Het jy al ooit jou karsleutels in ’n vrou se handsak probeer soek?”
Wat moveer ’n mens?
Miskien is dit die saampraat van die gehoor – al is dit net met die koppe – met die manjifieke Sandra Prinsloo in Die Naaimasjien.
As sy sê Foschini, dan knik die tante met die kop.
Sy ken ook mos Foschini.
En soms, as die swaar erg raak, vat hulle aan mekaar asof hulle Sandra op die verhoog wil troos.
In Dinsdae by Morrie, wanneer Chris van Niekerk stadig maar seker voor almal se oë doodgaan, voel jy die empatie.
En sien jy met die noem van bekende name die koppe instemmend “ja” sê.
Miskien is dit die lekker kos.
En die gesels op die Kunshuis se stoep.
Waar Louis opgewonde vertel van die nuwe galery vir kinderkuns.
En Stephanie ’n koue wyntjie gaan haal wat onder die herfsblare ’n ekstra geurtjie bykry.
Of Emile se gasvryheid by die Reinholdts-restaurant saam met Ilse Lochner, die koelte in Nancy’s Tearoom?
Dalk is dit die verrassings by die Leipoldt-ete wanneer die Sterling Quartet met energie lostrek en die gehoor oorrompel.
Vadertjie tog, ek hoor nou nog hul Carmina Burana as ek my oë toemaak.
Wat ’n fluit!
Wat ’n viool!
En die tjello!
Of is dit die vier Gugulethu-tenore?
Dat dit miskien die SMS was met die telling toe die Blou Bulle hul oorwinning behaal het net toe Gé Korsten met Liefling lostrek?
Gé?
Nee, hy stoot mos al lankal kluit.
Nee, daar staan toe ’n Gugule-thu-tenoor en hy sing soos Korsten.
Sy sangmaats klink soos Pavarotti, Domingo, Carreras, Bocelli, noem maar op.
En hulle sing, van alles, Liefling.
Toe weet ek wat my moveer.
Die wonderlike mense van hierdie land.
- Volksblad