Toe is haar ander handjie skoonveld
2012-02-08 22:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Marlene Jordaan
IN die dae toe ek nog netbal afgerig het, het ek altyd nadat proewe gehou is, my finale spankeuse se name met gemengde gevoelens op die kennisgewingbord gaan plak.
Wanneer ’n mens se span uitgesorteer is, doen ’n mens mos wat ’n coach moet doen: Leef met jou keuses saam. Soms wil jy jou keuses vermoor en ander kere wil jy hulle oorsee vat vir ’n vakansie, só trots is jy op hulle.
Ek het Amelia (nie haar regte naam nie) die eerste keer gesien toe sy as ’n o.14-meisietjie by my aangemeld het vir netbaloefening.
Sy het vir my maar net soos die dertigtal ander giggelende o.14’s gelyk.
Op daardie eerste dag het ek hulle laat hardloop, opstote en opsitte doen, touspring, balle gooi en vang. Die gewone, geykte netbaldinge. Ek het geraas en bemoedig en geprys, net soos enige netbaljuffrou maar op so ’n gewone dag doen.
En Amelia neem deel, en sy speel, en as asems begin jaag en opgee naby lê, moedig sy haar maatjies aan. “Kom kom, girls, nog bietjie, nog bietjie!”
Ek luister maar altyd so half onderlangs, want die leiertjies moet gou geïdentifiseer word, vir latere verwysing. Nog steeds het ek niks anders aan Amelia opgemerk nie.
My oog het hare nie eens getref nie, want op dié eerste oefendag, was daar heeltemal te veel oge.
Eers later, toe dié klein meisietjie haar sweetpakbaadjie aantrek en haar arm deur die mou steek, sien ek dit toevallig raak.
Sy het net een hand. Haar ander handjie is af.
Weg. Skoonveld. Nie daar nie. Net ’n stompie sit waar haar vang-instrument moet sit.
Haar gooi-instrument, haar opstoot-stut, haar touspring-hefboom. En Amelia het nie ’n woord gesê nie. Nie ’n dooie een nie.
Sy’t net gedoen. Plan gemaak. En stilgebly.
Amelia se handjie is op twee jaar oud deur ‘n worsmasjien afgekap. Haar ma-hulle het later vir haar ’n prostese gekry, wat sy weggegooi het omdat dit haar “terughou”. So is sy die lewe in.
Sy was later hoofmeisie en studeer vandag vir ’n graad in ingenieurswese.
Wanneer sy moes vang, het sy dit met een hand gedoen. En sy het nie die bal laat val nie.
Wanneer sy moes opstote doen, was dit op haar stompie. Wanneer sy moes touspring, het sy die tou om haar stompie met haar tande en ander hand vasgeknoop.
Ek het later nie eens meer onthou sy het net een hand nie.
Want sy’t my maak vergeet.
- Volksblad