Keurders slaap vas oor Morras
2012-02-03 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Johann de Jager
VANDAG mor ek oor Morras.
While You Were Sleeping is ’n rolprent uit 1995. Dit sal ook ’n gepaste titel vir ’n biografie oor die krieketloopbaan van Morné van Wyk wees.
En nee, dit het niks te make met die feit dat hy in die Wêreldbeker-toernooi aan die slaap agter die paaltjies was nadat hy per ongeluk slaappille geneem het nie.
Dit het te make met die feit dat dié talentvolle kolwer en paaltjiewagter soveel keer in sy loopbaan deur die keurders oor die hoof gesien is. Húlle was jare lank aan die slaap!
Van Wyk sou straks met ’n string internasionale rekords agter sy naam gespog het as hy oor die jare soveel geleenthede soos ander gekry het.
Hy word deur sommige as te oud beskou. Maar daar gaan staan die keurders en herroep Justin Ontong wat ook 32 is vir die toer na Nieu-Seeland. Ek stem saam Ontong beleef ’n goeie seisoen en verdien weer ’n kans.
Die keurders het ook uiteindelik die moed gehad om Graeme Smith weg te laat uit die blitsspan.
Die jong en opkomende Richard Levi is in sy plek as aanvangsmaat vir Hashim Amla betrek. Kaapse-konneksie, hoor ek in die agtergrond.
Daai is Morras se kos. Hy het dit ook by die Kolkata Knight Riders bewys. Ek kies hom heel eerste.
Die Wêreldbeker-blitstoernooi is om die draai. Van Wyk sal 33 wees wanneer die toernooi later vanjaar in Sri Lanka beslis word.
Van Wyk het in sy vorige blitswedstryd in die plek van ’n beseerde Smith nie teleurgestel nie. Hy was egter die eerste speler wat ná ’n nasionale rekord – 24 balle vir ’n vyftigtal – die trekpas gekry het. Van Wyk het voortgegaan om 67 van 39 balle te klits in die wedstryd teen Indië wat in die Moses Mabhida-sokkerstadion gespeel is.
Van Wyk is een van daai bitter begaafde sportmanne, soos AB de Villiers en Herschelle Gibbs, wat in ’n handvol sportsoorte uitgeblink het. Van Wyk het op skool nasionale kleure vir hokkie gekry. De Villiers is ook ’n uitstekende gholfspeler en tennisspeler, terwyl hy en Gibbs – albei losskakels – Cravenweek-rugby gespeel het.
Op Trinidad op sy eerste toer saam met die Proteas in 2005 het De Villiers aan my gesê hy wil eendag soos Jacques Kallis die voorste kolwer ter wêreld word en dat hy aan die einde van Mark Boucher se speeldae die handskoene as paaltjiewagter by hom wil oorneem.
Hoewel Amla met ’n baardlengte voor hom steeds die voorste plek op die eendagranglys beklee, is De Villiers volgens my met sy innoverende houespel op die oomblik by verre die topkolwer in kitskrieket. Hy veroorsaak stellig groot probleme vir onderwysers en afrigters wat kinders leer om korrek te kolf.
Daar is ook ’n lekker debat aan die gang oor waar De Villiers nou eintlik vir Suid-Afrika moet kolf in kitswedstryde.
Wat help dit jy sit met die beste kolwer ter wêreld en hy kolf eers sesde? Hy moet so vroeg as moontlik gaan kolf, meen sommige. Ek sal De Villiers met die val van die eerste paaltjie instuur as Suid-Afrika eerste kolf. Hy moet so vroeg as moontlik voor die paaltjies kom, veral as hy goed op stryk is.
Maar De Villiers is ook ’n uitstekende afronder. Hy kan ’n soortgelyke rol vir Suid-Afrika vertolk as Michael Hussey vir die Aussies. De Villiers is net so goed om die wa deur die drif te kry. So, slegs as Suid-Afrika tweede kolf en dit verlang word, sal ek De Villiers laer af in die kolforde oorweeg.
En moet De Villiers, wat ook nie sy gelyke in die wêreld in die veld het nie, steeds paaltjiewagter speel? Hy is goud werd in die veld.
Daarmee kan plek gemaak word vir Van Wyk. Morras, kyk net dat jy die keer die pakkie Salusa45 saamneem.
- Volksblad