Wanneer jy niks behalwe jou selfoon hoor
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JY word vroegoggend wakker van ’n lawaai.
Is dit Sophie wat dalk aan die deur geklop het of die buurvrou se klokkie wat gelui het?
Dit is onmoontlik, Sophie werk net Woensdae en vandag is Dinsdag.
En wat die buurvrou se deurklokkie betref, het jy nog nooit gehoor dat daar mense by haar gaan kuier nie.
Nadat jy die ketel aangesit het, besluit jy om te kyk wat in die wêreld (dus op jou foon) aangaan.
Op die skerm is ’n kennisgewing van Twitter – dís wat jou eintlik wakker gemaak het, besef jy nog effens deur die slaap.
Uit ontsteltenis gooi jy die dom foon dat hy daar op die kombuiskas trek.
Terwyl jy probeer om jou eerste koppie koffie rustig op jou stoep te sit en drink, word jy telkemale in die rede geval.
Pong. Pong. Pong.
Die eerste e-posse vir die dag stroom stadig, maar seker in – iemand is duidelik al op kantoor en maak nie ’n geheim daarvan nie.
Ná verskeie pogings om jou koffie rustig klaar te drink, gooi jy maar die koue helfte daarvan uit en kyk wat tog só belangrik is.
Niks noemenswaardig nie – dit kan maar wag.
Wat gaan op Twitter aan? Wat is nuus in die wêreld?
Die tydlyn wat jy voor jou sien, laat jou koud.
Madiba is wéér dood.
Tien minute later bevestig ’n nuusagentskap of -webwerf dat dit net ’n simpel gerug is.
Tieng. Tieng.
Tyd vir middagete saam met vriende, verneem jy op WhatsApp.
Dis ’n plek waarvan jy nog nie gehoor het nie, so jy vra vir die straatnaam en sal sommer die GPS van die foon gebruik om jou weg na die plek te vind.
Jy’s in jou kar en terwyl jy bestuur, soek jy die straatnaam op die GPS.
Niks.
Jou foon verstaan nie waarheen jy wil gaan nie en dit kos jou ’n vriend bel om uit te vind waar die plek is – gewone aanwysings werk toe beter as die GPS en jy is net betyds vir jou afspraak.
Terwyl julle aan ’n koppie koffie teug, is dit asof iemand jou die heeltyd in die rede val – dis nie iemand nie, dis selfone.
Jy praat hartsake met jou vriende terwyl hy/sy na hul foon staar en nou en dan glimlag.
Wat is só snaaks dat jy nie na my kan luister terwyl ek my grootste geheim met jou deel nie, wonder jy en praat hakkel-hakkel voort.
Iemand stuur vir jou met hul Google+-app ’n Youtube-video wat jy móét kyk, dis glo bitter snaaks. Iemand anders smeer dieselfde video op jou Facebook-muur af – jy besluit om die video tog te kyk, dalk vra iemand of jy dit al gesien het.
Tingeling. Tingeling.
Jy’t sowaar jou laaste afspraak vir die dag vergeet, maar jy’t gelukkig nog 15 minute voordat dit begin en jy jaag na jou laaste taak vir die dag.
Die afspraak het goed verloop, mense is stil ná 17:00.
By die huis gekom, is die foon se battery pap.
Jy laai hom nie!
- Volksblad