Kry WiFi of bondel vir jou foon anders vang slim sy baas
2012-02-10 22:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MJ Lourens
DIT is alles goed en wel om ’n slimfoon aan te skaf totdat jy jou eerste rekening kry!
Hoe op aarde het jy R5000 se data in een maand gebruik?
Sodra jy jou nuwe foon kry en al die oulike apps afgelaai het, “praat” jou foon die heeltyd met die netwerk – om jou te laat weet as daar byvoorbeeld iets op Facebook of Twitter gebeur. Dís standaard.
Terwyl die foon so lekker met die netwerk aan’t gesels is, gebruik hy data – en baie daarvan – om die gesprek te voer.
Gestel jy is op jou slimfoon op die Facebook-webwerf en jy blaai rond, in dié tyd kan jou foon tot 2MB (megagreep) per minuut gebruik.
Jy gebruik Facebook bitter min en kyk selde of daar iets aangaan; as jou foon gestel is om kennisgewings te stuur, is dit maar net so goed jy is op die webwerf. En sommige goed word op ’n sekere standaard gestel ( en jy moet dit self gaan verander).
Hoewel die gebruik minder kan wees en dit afhang van hoe jou apps en e-pos gestel is, kan die scenario by jou anders wees.
Met my iPhone het ek die eerste keer ’n 500MB-databondel aangeskaf, wat binne die eerste drie dae opgebruik is.
Die ongeluk met ’n kontrakfoon is dat jy nie besef hoeveel jy gebruik totdat jy jou eerste rekening kry nie. En selfs dán is dit al amper tyd vir die tweede rekening om gepos te word (wat amper dieselfde as die eerste rekening is... die helfte van ’n meenthuispaaiement). Sulke rekeninge kom gewoonlik wanneer ’n mens finansieel die swaarste trek – soos ná Kersfees.
Wat is dan die alternatief? Dink, vra, lees en vergelyk.
Dit help nie jy’t ’n baie grand foon, maar jy kan nie die wonderlike apps gebruik nie – dan is dit soos ’n duur rok of aandpak wat jy nie kan aantrek nie.
’n Goeie alternatief, as jy nie databondels vir jou foon wil koop nie, is iBurst (as jy in ’n stad woon).
Kry vir jou die Playa5+ teen R149 per maand. Jy kry 5GB (gigagreep) in die dag en 5GB om in die middernagtelike ure te gebruik. Jou eerste maand plus installasie behoort jou nie meer as R600 te kos nie.
As jy nie in ’n stad soos Bloemfontein woon nie, is die alternatief groot databondels van jou selfoondiensverskaffer of vastelyn-internet (Telkom ADSL).
Indien jy besluit om ’n databondel van ’n selfoonmaatskappy aan te skaf, maar meer as een mens moet dit gebruik, is die beste opsie om ’n WiFi-router te koop en jou 3G só deur jou huis te stuur. Dit hou jou egter gebonde aan waar jou WiFi is en kan jy nie die huis verlaat nie.
Nóg ’n opsie is om by ’n koffiewinkel te wees wat WiFi het. Hulle bied dit gewoonlik gratis aan hul kliënte, maar die spoed van die internet is dikwels baie stadig.
Die beste raad wat ek met data het, is: Weet hoeveel jy gaan gebruik, weet hoeveel dit jou gaan kos, weet ook hoeveel dit jou gaan kos as jy jou bondel oorskry en maak die sommetjie.
Jou diensverskaffer behoort op sy webwerf ’n afdeling te hê waar jy min of meer kan bereken hoeveel data jy gaan gebruik.
Die probleem is gewoonlik wanneer jy dink jy gebruik niks, maar in werklikheid gebruik jou foon ongelooflik baie data, sonder dat jy daarvan bewus is.
- Volksblad