Die dae wat duimpie se maat al die werk moet doen
2012-02-17 22:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MJ Lourens
HET jy ’n ongeskiktheidsfonds wat vir jou sal betaal as jy nie kan werk nie weens ’n BlackBerry-duim?
Dis dalk nie só erg nie, maar is altyd iets wat ’n mens kan oorweeg, veral met dié tipe kwale.
Ontmoet Chris Claypool, selferkende BlackBerry-verslaafde.
Hy het elke liewe e-pos wat hy gekry het, geantwoord, sy twee duime hard aan’t werk om kliënte regoor die wêreld by te staan – dis mos wat ’n goeie verkoopsbestuurder in die landbousektor veronderstel is om te doen.
Op 37-jarige ouderdom het hy in 2010 erge pyn in sy duime begin ondervind wat hom genoop het om met sy wysvingers te tik.
Natuurlik het dit moeilik gegaan met die wysvingers, wat toe ook begin seer word het, en het hy sy middelvinger later ook gebruik. Natuurlik het hy elke dan en wan sy duime gebruik tot op die punt wat dit so erg gepyn het dat hy nie die TV se kanale met die afstandbeheer kon verander nie.
Dié besering word veroorsaak deur die herhaaldelike beweging van jou duimgewriggies.
Oplossing: Maak jou hand elke dag ’n paar keer so wyd as moontlik oop om die spiere te strek. Bal dit dan in vuiste en herhaal die aksie elke keer as jy lank met ’n selfoon werk.
Dit is egter nie net BlackBerry wat vir allerhande kwale verantwoordelik is nie.
Tegnologie kan letterlik ’n pyn in die nek wees as jy nie bewus is van jou liggaamspostuur nie.
Laptop-nek is wanneer jy die heeltyd moet afkyk na ’n rekenaarskerm met jou nek effe na vore en hierdeur ekstra druk op die boonste werkwelkolom plaas. As jy lank in so ’n posisie sit, word jou nek, rug en skouers baie vinnig seer en kan dit spasmas veroorsaak.
Oplossing: Staan elke 20 minute op en loop ’n draai. Moenie jou voete kruis wanneer jy sit nie en hou ’n redelike hoeveelheid gewig op jou voete (dink aan die dinamika van ’n driepoot-staander). Wanneer jy jou voete kruis, vat dit harder werk van die torso om jou balans te hou.
Die waarskynlikheid is groot dat jy al iemand gesien het wat ’n klomp goed in hul hande het en eenvoudig nie die foon by hul oor kan hou nie, dus knyp hulle, met ’n buig-aksie van die nek, die foon op hul skouer vas. Dié aksie kan senuwee, ligamente en spiere beskadig wat ’n bultende werwel kan veroorsaak.
Oplossing: Gebruik die luidspreker-funksie van die telefoon of die oorfone wat gewoonlik saam met die foon verkoop word.
Ek is seker dit sal nie die laaste wees wat ons van tegnologie-verwante siektes en beserings hoor nie, soos wat tegnologie voortdurend verander.
Wat my verstom, is al die aandag wat sulke tipe “kwale” kry. Is dit werklik nodig vir spesiale dekking teen ongeskiktheid weens te veel werk met die duime?
Miskien, as jy geld het om in die water te gooi.VBronne:wired.com en health.com
- Volksblad