Pres. Jacob Zuma het wéér ’n storm veroorsaak
wat allerlei ontkennings en verduidelikings verg van wat hy eintlik sou bedoel
het. Luidens ’n berig verlede week in Volksblad het hy gesê:
“Lank gelede – voor die koms van die evangelie en godsdiens – het ons ons eie
manier gehad van dinge doen.
Dit was donker tye volgens godsdienstige mense,
maar ons weet in daardie tye was daar nie goed soos weeskinders en ouetehuise
nie.”
Suid-Afrikaners moet dus terugkeer na die “ou manier van dinge
doen” omdat die Westerse manier tot maatskaplike probleme bygedra het.
Zuma se woordvoerder, mnr. Mac Maharaj, het daarna verduidelik dat
Zuma, wat in “diep Zoeloe” gepraat het, eerder na die “Westerse kultuur” verwys
het, wat toe verkeerdelik as “Christendom” vertaal is.
Laat ons dit
argumentsonthalwe aanvaar. As Zuma inderdaad na die Westerse kultuur verwys het,
roep dit interessante gedagtes op.
Daar kan geen twyfel wees dat die koms van die Weste na Afrika ’n
klomp nadele meegebring het nie.
In die vroeë 19de eeu was by minstens drie groepe in Suider-Afrika
’n vroeë moderne staatsvorming aanwesig – by die Zoeloes, die Ndebeles in
Zimbabwe en die Angoni’s in Malawi.
Los familiegroepe is in ’n enkele staat
onder ’n enkele heerser verenig, soortgelyk aan wat Arminius, leier van ’n
Germaanse stam (die Cheruske), in die eerste jare van die Christelike
jaartelling in die huidige Duitsland probeer doen het.
’n Mens sou dit ook losweg kon vergelyk met die Afrikaners se
latere ontwikkeling van hul eie republieke.
Mense is van nature geneig om dit wat hulle ken as die enigste
korrekte te beskou. Byvoorbeeld, toe koning Shaka vertel is van die wittes se
gewoonte om mense weens oortredings toe te sluit, was hy geskok, want volgens
die Zoeloekultuur was dit ’n onmenslike straf. Die Zoeloemanier was na sy
mening baie mensliker, want die skuldiges se nek is eenvoudig gebreek. Vinnig en
genadig.
Daarteenoor was die eerste Westerlinge vol afsku oor die gewoonte
om mense vir selfs geringe oortredings dood te maak.
Twee kulture wat mekaar nie
begryp het nie. Die geskiedenis is vol sulke voorbeelde.
Wie weet waartoe dinge sou ontwikkel het as die Zoeloes, Ndebeles
en Angoni’s nog 1?000 jaar natuurlik kon ontwikkel het. Maar toe kom wittes in
groot getalle en breek dié ontwikkeling stomp af.
Die “ou manier van dinge doen” is kortgeknip, en swart mense moes
opeens ’n vreemde manier van dinge doen as die korrekte aanvaar.
Die sielkundige
trauma waarmee dit gepaardgegaan het, is uitstekend deur die swart Karibiese
psigoloog Frantz Fanon beskryf: selfhaat en ’n minderwaardigheidsgevoel.
Juis Afrikaners moet dit kan begryp, want in ’n mindere mate het
hulle ’n soortgelyke proses met die Engelse veroweraars deurgemaak.
Maar die Weste het ook talle seëninge gebring: verbeterde
landboumetodes om meer kos te produseer, beter mediese sorg, infrastruktuur,
onderwys en geletterdheid, ekonomiese ontwikkeling.
En mits ’n wyse gevind kan word om alle mense, ongeag ras of
kultuur, daarin te laat deel, is dit nie verkeerd nie.
Feit is dat ons nou eenmaal in ’n geglobaliseerde wêreld en in die
21ste eeu leef. Niemand kan meer na die dae van Shaka en Mzilikazi terugkeer
nie.
As Zuma (soos Afrikaners ook graag doen) sy mense aanmoedig om die
goeie uit hul eie kultuur te verenig met die voordele van die huidige tyd, is
daar niks mee verkeerd nie. Inteendeel. Maar as hy die Christendom as sodanig
aangeval het, moet hy moeilikheid verwag.
Die skrywer is Media24 se
korrespondent in Europa.