Wat moet nog verander?
2010-07-29 21:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n Paar weke al loop ek met die gedagte om te sê die tyd is verby om vir wit Suid-Afrikaners te preek en te vermaan oor verandering.
Wat moet hulle nog verander? Hulle het al die politieke en sosiale veranderings gemaak waarop hul swart landgenote oor soveel jare heen aangedring het.
Maak nie saak wat die vraag was in die referendum in Maart ’92 nie, wit kiesers het geweet as die Ja-stem wen, bring hulle ’n einde aan wit beheer. Byna 67 persent het toe ja gestem.
Daardie Ja-stem was ’n merkwaardige moment. Dit het nie uit die lug geval nie. ’n Lang geskiedenis waarin wit Suid-Afrikaners vermaan, gewaarsku en gesmeek is om te verander, het dit vooraf gegaan.
Ook in die Afrikaanse gemeenskap. Volumes is al geskryf oor die rol van figure soos Bram Fischer, Beyers Naudé, Breyten Breytenbach, Frederik van Zyl Slabbert en vele ander.
Binne-in die establishment was daar mense soos proff. Johan Heyns en Ben Marais. Daar was die “Nuwe Natte” – Dawie de Villiers, Wynand Malan en Leon Wessels. Hulle was die “parlementêre vleuel” van die verligte beweging van die 60’s, 70’s en 80’s waarin die Afrikaanse koerante ’n leidende rol gespeel het – ’n rol waaraan minstens een verbitterde regse iewers my sowat een keer per week herinner.
Skel en verwyt maar. Ek het onder sommige van daardie redakteurs gewerk en die ander geken. Daar is min om oor skaam of spyt te wees. Inteendeel.
Die Afrikaanse denkleiers wat geywer het vir verandering is hoogstens skuldig daaraan dat hulle nie dringend genoeg was nie. Daar was tog nooit enige ander haalbare opsie as N.P. van Wyk Louw se “voortbestaan in geregtigheid” nie.
Vandag aanvaar die meeste wit Suid-Afrikaners die legitimiteit van die demokratiese bedeling al hou die meeste nie van die ANC nie en dink die meeste wittes die land word maar vrot regeer.
Maar dan word daar steeds vir hulle gesê hulle moet verander. Vir seker moet hulle minder rassisties wees, maar dit geld vir almal. Ook swart Suid-Afrikaners moet minder rassisties wees.
Soms word ook vir wit Suid-Afrikaners gesê hulle moet meer dankbaarheid toon omdat swart Suid-Afrikaners hulle vergewe het vir apartheid. Dalk moet hulle. Dan kan swart Suid-Afrikaners sommer groter erkenning gee aan wittes se rol om Suid-Afrika die mees gevorderde, mees moderne land in Afrika te maak.
Wittes hoor ook hulle moet meer mededeelsaam wees. Net hulle? Wat van die swart elite wat die afgelope tien jaar stinkryk gemaak is deur verpligte swart ekonomiese bemagtiging? Die SEB-rykes moet mos ook deel, of hoe?
Wittes kan nie ontken dat hulle as ’n demografiese groep steeds meer welaf is as die ander groepe nie. Maar só dra hulle as ’n groep ook die grootste belastinglas – terwyl hulle nie veel in ruil kry in die vorm van openbare dienste nie.
Ook word wittes dikwels gevra om te verander en vrywillig af te staan. Me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, het wit boere onlangs gewaarsku om stukke van hul plase weg te gee anders word dit weggevat, soos in Zimbabwe. Mnr. Gugile Nkwinti, haar kollega by grondsake, praat dieselfde taal
Dis asof die politieke elite dink armoede sal opgelos word as wittes se eiendom gekonfiskeer en gelyk verdeel word onder swart Suid-Afrikaners. Terwyl dit net armoede sal vererger. Soos in Zimbabwe, waar dié land se nasionale rykdom vandag op dieselfde vlak is as wat dit in 1950 was.
Soos in die begin gesê, dié rubriek stap nou al ’n paar weke saam met my. Dele daarvan was voor gister reeds geskryf.
Maar toe lees ek dié week die berigte oor die hofsaak van die Reitz-vier en onthou weer wat alles daar gebeur het.
En ek wonder skielik: Is daar nie tog iewers wit Suid-Afrikaners wat nog moet leer om anders na hul land en hul landgenote te kyk nie?
- Volksblad