Staking wat voortsleep
2010-09-06 23:10
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Soos die staking voortsleep, het my simpatie met die stakers al hoe minder geraak.
Die rede waarom ek wel simpatie gehad het, is dat ek dink dit is verregaande dat verpleegsters, onderwysers en ander versorgingswerkers so min betaal word.
As ons alle versorgingswerkers uit die samelewing verwyder, sal die samelewing nie kan funksioneer nie.
Desnieteenstaande word hulle ’n appel en ’n ei betaal.
Een van die probleme van die stakende staatsdienswerkers is dat hulle te veel verdien om ’n HOP-huis te kry, maar te min om ’n lening te kry.
Hoe moet hulle dus eiendom bekom?
As ons egter hierdie kategorie werkers vergelyk met werkers in ander kategorieë, soos handearbeiders, is hulle relatief welvarend, omdat handearbeiders nog minder verdien.
Indien daar aan die werkers se eise toegegee word, sal dit beteken 48 sent uit elke rand word aan die salaris van staatsdienswerkers bestee, teenoor 37 sent tans.
Dit beteken omtrent net 50 sent uit elke rand van belasting word aan dienslewering afgestaan.
’n Mens sou daarmee kon saamleef as ’n verhoging in salaris sou beteken dat ons beter diens uit die staatsdienswerkers sou kry.
Maar dit is nie die geval nie. Staatsdienswerkers het in die algemeen ’n reputasie vir swak dienslewering.
Die staat het te kenne gegee daar is net nie genoeg geld om ’n 8,6%-verhoging en ’n R1?000-behuisingsubsidie toe te staan nie.
Maar die politieke elite het dié gat vir hulself gegrawe.
Die obsene salarisse wat baie van hulle kry, het nie ongesiens by die werkers verby gegaan nie.
En dit is een van die gevolge van die selfverryking van die elite.
Dit is ook ’n gevolg van neo-liberale ekonomiese beleid wat die gaping tussen ryk en arm soveel vergroot dat dié wat arm is en nie toegang tot die vrye mark het nie, ander maniere soek om uit hul verlammende armoede te ontsnap.
Anders as die massa-aksie van die verlede, wat ’n politieke doel voor oë gehad het, het hierdie massa-aksie ’n doel wat nooit bereik kan word nie, want wanneer sal almal tevrede wees?
Ek is nie seker of die werkers verstaan dat daar nie onbepaalde verhogings vanaf die staat kan kom nie. En dat as salarisse verhoog word, die geld vanaf dienslewering verskuif moet word.
Salarisaanpassings is gewoonlik inkrementeel om met inflasie tred te hou. Gaan ons elke jaar dieselfde drama deurgaan omdat staatsdienswerkers voel die inkremente wat op hulle van toepassing is, is nie groot genoeg nie?
Dit sal definitief ekonomiese groei belemmer.
Op die ou end sal die staat gekonfronteer word met een van twee keuses – aanvaar dat vakbonde elke jaar die staat lamlê, of lê vakbonde in so ’n mate aan bande dat hulle nutteloos word.
Maar die staat kan kwalik die tweede opsie uitoefen solank as wat Cosatu deel van die regerende alliansie is.
Die optrede van die vakbonde dui op ’n legitimiteitskrisis in die regering. Zuma se afwesige leierskap het hom ingehaal.
Die werkers vertrou hom nie en hy weet nie wie hy kan vertrou nie. Om sy gewildheid by Cosatu te behou, voor die ANC se Nasionale Algemene Vergadering wat op 24 September begin, sal hy aan die werkers moet toegee.
My simpatie het egter om ander redes gekwyn – oor die onmenslike optrede van versorgingswerkers wat noodsaaklike dienste verrig, soos dokters, verpleegsters en onderwysers.
Om mense (veral babas) te laat doodgaan om ’n punt teenoor die staat te maak, en om leerlinge kort voor die matriekeksamens in die steek te laat, is onaanvaarbaar, maar om leerlinge uit klaskamers te jaag en dié wat uithelp, aan te val, is krimineel.
Wat het van medemenslikheid geword?
In hierdie geval kan die doel nie die middele heilig nie, omdat die etiek van versorging van versorgers die eis stel om die lewe van ander mense eerste te stel. Watter verskil sou dit aan die staking gemaak het as ander mense die werk doen?
Stakende werkers het nog nie hul werk verloor nie en die “no work, no pay”-beleid skrik hulle blykbaar nie af nie. Wat leer kinders uit die gewelddadige optrede? Dat dit aanvaarbaar is om probleme met geweld op te los en so word die siklus van geweld geperpetueer. Hulle leer ook dat die lewe goedkoop is en dat jy nie verantwoordelikheid hoef te neem vir jou keuses nie. Jy kan maar net die staat die skuld gee. )?Die skrywer is professor in politieke wetenskap aan die US.
- Volksblad