VERHELDERENDE debatte het die manier om
hulself onverwags aan te meld.
Die huidige gesprekke oor die Afrikaanse
gemeenskap se reaksie op die omskakeling van die Waterkloof-twee se tronkstraf
na korrektiewe toesig is een so ’n debat.
Die kritiek op die Afrikaanse gemeenskap is dat daar ’n definitiewe
verskil is tussen die aard en intensiteit van die gemeenskap se reaksie op die
Waterkloof-twee teenoor die destydse reaksie op Schabir Shaik se mediese
parool.
Meer spesifiek is daar kritiek op die Afrikaanse media se
beriggewing omdat daar oor ’n wye front die mening bestaan dat Volksblad die Waterkloof-twee te gemoedelik gehanteer het.
Sommige meen selfs Volksblad staan simpatiek teenoor
die twee.
’n Mens kan sulke kritiek afmaak en ignoreer, of iets daaruit
probeer leer – en darem jou saak stel.
Ek dink dit is waar dat ons in groter mate berig het oor die
Waterkloof-twee se optrede en menings sedert hul vrylating as in vergelykbare
sake.
Die rede is eenvoudig: Dit was moontlik. Hulle was toeganklik en sowel hul
menings as hul optrede was nuuswaardig.
Daarom is dit gerapporteer.
Dit was nuuswaardig omdat dit ons wys wat hul ingesteldheid is.
Vir
my was dit interessant en nogal skokkend, want dit gee insig in hul
verwysingsraamwerk, so vreemd en onsensitief as wat dit vir baie van ons sal
wees.
Die bedoeling wat kritici daarin lees, is dat ons hulle meer ter
wille is as soortgelyke vrygelate misdadigers.
Dit is onwaar, soos Volksblad se kwessiegerigte hoofartikel verlede week wys.
Maar die persepsie dat ons die Waterkloof-twee as deel van “ons”
sien en dus minder uitgesproke as byvoorbeeld Shaik se mediese parool hanteer,
loop te wyd om net afgemaak te word en is puik verwoord in die kritiese
ontleding deur prof. Herman Wasserman verlede Woensdag in Volksblad. Wat staan ons te doen?
Eerstens moet ’n mens toegee ons kon dalk meer prominensie gegee
het aan die kritiek op die gebeure.
Ons het prof. Tom Coetzee se kritiek dat die
regsgronde vir die besluit misplaas was en mnr. James Selfe van die DA se
konsekwente en duidelike kritiek op die gebeure volledig gedek, maar dis
duidelik nie die boodskap wat inslag gevind het nie.
Geen beriggewing is ooit bo
kritiek verhewe nie; die lewe is mos maar ’n voortdurende leerskool.
En tweedens is dit nodig vir elkeen van ons wat Afrikaanssprekend
is en meen dis onhoudbaar dat mense eerstens so kort in die tronk sit weens
moord en tweedens so onvanpas onnadenkend en gefokus op die bevrediging van eie
behoeftes kan oorkom, om van ons te laat hoor.
Dit is nodig, want die openbare diskoers buite die Afrikaanse
dampkring beweer Afrikaanse mense vereenselwig hulle met die Waterkloof-twee.
Daardie persepsie is grootliks ongegrond, maar moet teengespreek word voordat
die nasionale kollektiewe onderbewuste dit, by verstek, aanvaar as gegewe.
Dis vergelykbaar met die kritiek op die regering se reaksie oor
plaasmoorde.
Die algemene siening is dat die regering nie genoeg omgee nie; dat
dit nie vir hom prioriteit is nie.
Alle kabinetslede ontken hierdie siening,
maar omdat die regering nie in woord en daad wys dat hy omgee nie, is dit reeds
bykans onveranderbaar deel van die kollektiewe nasionale onderbewuste dat
plaasmoorde die regering nie genoegsaam skeel nie.
Dit help voorts nie om die Shaik-parool se verkeerdheid te gebruik
om die Waterkloof-besluit se verkeerdheid te probeer regverdig of versag nie.
Om
konsekwent te wees is geen deug as dit konsekwente verkeerdheid beteken nie.
As
die owerhede korrekter wil optree as destyds met Shaik, sal dit die een goeie
ding wees wat die hele Waterkloof-debakel voortbring.