Myndorp-lesse word nie geleer
2012-01-25 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Zacheus Matebesi
SUID-AFRIKA is een van die rykste lande wat plaaslike minerale rykdomme betref, maar om die een of ander rede kon ons nog nie daarin slaag om belangrike lesse te leer wat in talle verslae oor dekades heen vervat is nie.
Dit ly geen twyfel nie dat die mynbedryf groot vooruitgang gemaak het in die ontslae raak van die historiese houding van “te duiwel daarmee” wat betref die impak van bedrywighede. Gebiede word bloot verlaat nadat alle ekonomies waardevolle hulpbronne uitgeput is.
Daar is geen beter voorbeeld hiervan nie as die geskiedkundige tragedie van die Jagersfontein-myn, wat in die proses is om heropen te word.
Die myn is ’n eeu lank bedryf, en was vir 42 jaar lank gesluit nadat 9,5 miljoen karaat diamante uitgemyn is. Maar watter voordele het dit vir die gemeenskap op lang termyn ingehou? Bestaan die omstandighede steeds wat gelei het tot die ekonomiese ineenstorting van die dorp? Watter strategieë is ingestel om die lewensvatbaarheid van die dorp te verseker vir geval die myn sluit?
’n Dokument van die Kopanong-raad noem dat die nuwe eienaars van die myn, die Superkolong-konsortium, hoofsaaklik drie doelwitte nastreef oor die 15 tot 20 jaar wat die myn bedryf gaan word.
Eerstens streef hy na ’n nalatenskap as ’n maatskaplik verantwoordelike, maar tog dinamiese en winsgewende maatskappy. Tweedens het hy ten doel om ’n dorp met volhoubare sake-ondernemings te ontwikkel. Derdens wil hy verseker dat die gemeenskap oor behoorlike onderwys, infrastruktuur en mediese en maatskaplike dienste beskik.
Die Jagersfontein van vandag lyk soos die meeste armoede-geteisterde dorpies in die Xhariep-distrik, sonder enige teken van die finansiële voordele van die eerste 100 jaar van mynbou-aktiwiteite.
Dít demp egter nie die geesdrif van die gemeenskap oor die heropening van die myn nie. Wêreldwyd bly die pryse van minerale styg, en gevolglik behoort die winsgewendheidsdoelwit maklik bereik te word.
Die Jagersfontein-gemeenskapstrust, wat 10%-belange in die myn se beheermaatskappy het, het reeds R20miljoen kontant ontvang. Hierdie geld sal gebruik word om nuwe infrastruktuur op te rig.
Ek is egter skepties oor die daarstel van volhoubare ondernemings en die instandhouding van infra-struktuur ná die sluiting van die myn. Hoe moeilik dit is, word gedemonstreer op ander myndorpe soos Koffiefontein, Virginia en selfs Annesley in Brittanje.
Aangesien daar ’n baie fyn onderskeid is tussen korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid wat afhanklikheid skep en wat ’n gemeenskap op ’n volhoubare wyse ontwikkel, is ek daarvan oortuig dat dit volkome van die gemeenskap afhang om die voorwaardes te dikteer om te verseker dat die myn voordelig vir die gemeenskap gaan wees.
Daar is een gemene deler tussen alle myn-spookdorpe: Die grootste deel van die inkomste beland in die sakke van magtige en gulsige individue wat hulself voorhou as gemeenskaps-, provinsiale of nasionale leiers. Wie sit agter die meeste mynboutransaksies in provinsies soos die Noord-Kaap, Mpumalanga en Limpopo? Die jongste verslag van die ouditeur-generaal wys in ieder geval dat die gemeenskap geen betekenisvolle steun van die verkwistende Vrystaatse provinsiale regering kan verwag nie.
Gerusstellend is dat die Kopanong-munisipaliteit ingestel is op die potensiële voordele wat die gemeenskap en streek uit die myn kan put.
’n Verdere maatstaf vir volhoubaarheid is of plaaslike gemeenskappe gewillig om hul regmatige aandeel in mynbouontwikkeling op te eis.
Die geskiedenis wys dat die meeste spookdorpe hoofsaaklik in dele is wat politiek staties is of wat die slagoffers is van irrasionele besluitneming deur gemeenskapsleiers.
Ons sal hieruit moet leer.
• Dr. Zacheus Matebesi is hoof van die departement sosiologie aan die Unversiteit van die Vrystaat.
- Volksblad