Mense is orals steeds ‘gatvol’!
2012-01-24 22:19
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Hussein Solomon
‘ONS is steeds gatvol!” lui die plakkate by die Chapmanspiek-tolhekbetogings in Kaapstad.
Soortgelyke sentimente is vroeër in Gauteng waargeneem wat daarop uitgeloop het dat die regering die voorgestelde tolstelsel op die ys geplaas het.
Hierdie protesaksies openbaar twee belangrike en ou bekende waarhede.
Die eerste en die mees voor die hand liggende is dat Suid-Afrika se vuisvoos belastingbetalers genoeg gehad het daarvan om gemelk te word terwyl hulle met ’n onsimpatieke en onbevoegde regering te kampe het.
Die onsimpatieke aard van die regering het duidelik geblyk toe inwoners van sowel Gauteng as Kaapstad gekla het oor gebrekkige raadpleging deur die provinsiale en plaaslike regering met hul kiesers.
Die onbevoegdheid van die regering word gesien in die feit dat regeringsdepartemente volgens die ouditeur-generaal tot R24,5 miljard in verkwiste of vrugtelose uitgawes bestee het.
Dit is uiteindelik belastingsbetalers se geld en hulle is verstaanbaar grimmig daaroor.
Die tweede waarheid lê in die feit dat die huidige ekononomiese situasie onvolhoubaar is.
Die land se belastingbasis is klein, terwyl die eise voortdurend meer word.
Terwyl belastingbetalers maar net meer as vyf miljoen mense is, is daar meer as 15 miljoen inwoners wat toelae van die staat ontvang.
Verder is salarisverhogings baie klein, terwyl voedselinflasie en kragtariefstygings, om nie te vergeet van skoolgeld nie, die hoogte in geskiet het, wat verder bydra tot die las op die skouers van die land se klein groepie belastingbetalers.
Die regering se planne wat betref gesondheidsorg en pensioene sal bloot ook net bydrae tot die sorge van hierdie belastingbetalers.
Dit is finansieel nie volhoubaar nie, en die enigste weg uit hierdie moeras uit is om die belastingbasis te laat groei deur vir meer mense werk te skep.
Regeringsinisiatiewe wat werkskepping betref, was egter ’n groot mislukking en die onvolhoubare finansiële situasie word voortgesit, wat almal verder in die moeras aftrek.
Hierdie finansiële situasie word verder vererger deur die stroewe internasionale ekonomiese omgewing.
Die voortgesette probleme in die Euro-sone, die land se grootste handelsvennoot, gaan vir seker ’n negatiewe uitwerking op die land se uitvoer hê as gevolg van die verswakking van die koopkrag van Europeërs.
Verder lyk dit of die konflik in die Persiese Golf tussen Iran en die Weste oor dié land se kernprogram op die spits gedryf gaan word.
Sou dit op oorlog uitloop, gaan dit ook ’n negatiewe uitwerking op Suid-Afrika hê.
Iran en Saoedi-Arabië is verantwoordelik vir meer as die helfte van die land se totale olie-invoer.
Te midde van hierdie krisis, is die Zuma-administrasie hard besig om op bisarre wyse musical chairs op die dek van die Titanic te speel, eerder as om leierskap te verskaf.
Terwyl hulle besig is om te kibbel oor wie die volgende kaptein gaan wees, is die staatskip besig om meer en meer water in te neem.
Ek is seker self ook maar gatvol!
Prof. Hussein Solomon is ’n dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.
- Volksblad