Klimaat het nie ’n pouse-knop
2011-12-12 22:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
André le Roux
DIE klimaatberaad in Durban (COP17) verlede week is oorheers deur twee uiteenlopende standpunte.
Die een, deur die wêreld se volgroeide ekonomieë, sê iets moet dringend gedoen word om te keer dat industrialisering die klimaat só verder beskadig dat die aardbol se gemiddelde temperatuur teen die einde van dié eeu met meer as 2ºC styg.
Dán sal dit vir die mens byna onmoontlik wees om aan te pas by die reeds groeiende getal buitengewone katastrofale weerverskynsels, soos oorstromings en versengende droogtes.
Die sogenaamde ryk lande skryf dit grootliks toe aan die stygende vlakke van besoedeling van die atmosfeer, wat teen 2015 ’n kritieke versadigingspunt sal bereik en hulle erken dat hulle ’n “historiese” aandeel daaraan het.
Daarteenoor verwoord die sowat 180 ontwikkelende lande hul standpunt só:
“Ons moet miljoene mense voed en van kos, krag, water en werk voorsien.
“As dit beteken dat ons nóg steenkoolkragsentrales moet bou, sal ons daarmee volhou vir so lank dit verg om soos Amerika, Japan en die 27 Europese lande ’n mededingende, ontwikkelde staat te word,” soos dit deur mnr. Xie Zhenhua, hoof van China se afvaardiging by COP17, gestel is.
Een van die beste voorbeelde van die konflik tussen die noodsaak van ekonomiese ontwikkeling en die dreigende nood van drastiese klimaatverandering is Suid-Afrika self.
Meer as 40% van Suid-Afrikaners is funksioneel werkloos en sonder ’n vaste inkomste. Baie is gekluister aan ’n daaglikse stryd om te bestaan, hetsy in die diep platteland of in plakkerstede rondom die groot metropole.
Volgens die Verenigde Nasies het meer as 23% van Suid-Afrika se bevolking van 50 miljoen in 2011 nog nie toegang tot krag, kraanwater of spoeltoilette nie.
Dis aan hulle wat die ANC in sy verkiesingsmanifeste “waardige werkgeleenthede” beloof en nie lewer nie.
Vier Greenpeace-aktiviste wat die land insluip en teen ’n gebou in Durban uitklouter om die wêreld te waarsku teen aardverhitting, kweek nie by die Suid-Afrikaanse regering ’n klimaatgewete nie.
Nadat hulle gedeporteer is, het ANC-ministers pres. Jacob Zuma se niksseggende belofte aan COP17 herhaal.
In 2009 by COP15 in Kopenhagen het hy Suid-Afrika se selfopgelegde verbintenis tot die inkorting van sy besoedelingsvlakke aangekondig.
Suid-Afrika wil van 2020 sy besoedeling met 34% verminder en teen 2025 met 42%.
Zuma het nog nooit kon verklaar van waar hy dié lukrake syfers uit die besoedelde lug gegryp het nie.
Die meer berekende stelling wat die regering maak, is dat Suid-Afrika, onder andere deur mnr. Trevor Manuel se langtermyn-ontwikkelingsplanne, dramaties sal industrialiseer en infrastruktuur vir die land se miljoene agtergeblewe gemeenskappe sal uitbrei.
Meer steenkoolspuwende kragsentrales, meer suur mynwater wat in riviere en ondergrondse waterbronne inloop en meer vleilande wat drooggelê word deur onoordeelkundige beplanning en optredes – dís die prys wat ons gaan betaal.
Wat die debat wel hopelik doen, is om dit ook in die Suid-Afrikaanse openbare bewussyn te vestig dat as noodsaaklike industrialisering en die werklike krisis van klimaatverandering nie met die nodige balans bestuur word nie, die akkumulerende prys vir die mensdom ewigdurend is.
“En die klimaat het nie ’n pouse-knoppie om te druk terwyl ons verder hieroor redekawel nie,” het ’n deelnemer aan die COP17-beraad verlede week gesê.
• André le Roux is redakteur van Media24 se Afrika-kantoor.
- Volksblad