JZ se opmars na Mangaung
2012-02-09 22:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Henry Jeffreys
Fred Mouton se spotprent eergister in Volksblad som baie raak op wat ons van gisteraand se staatsrede kon verwag. Pres. Jacob Zuma was vervaard aan die soek na beloftes wat hy nog nie gebruik het nie!
Zuma het ons toe nie verras nie. Dit is moeilik om te sien hoe en oor wat. Om werklik die nasie se aandag te kry, sou hy iets op die skaal van “ek gaan my in Mangaung nie verkiesbaar stel nie” moes gesê het.
Vanjaar is ’n groot politieke jaar en die president het ander prioriteite. Die staatsrede het waarskynlik baie laag op daardie lys gelê.
Die herverkiesing as ANC-leier einde vanjaar en as staatshoof in 2014 is ongetwyfeld heel bo aan sy lys. Die parlement is nou nie juis die slagveld daarvoor nie.
Luthuli-huis is wel. Daar lyk dit of Zuma, nieteenstaande al die gerugte van sy politieke dood, baie sterker staan as wat sy kwaadpraters bereid is om te erken.
Julius Malema, Zuma se eerlikste uitdager, se politieke loopbaan binne die ANC is op lewensondersteuning. Dis net ’n kwessie van tyd voordat die masjiene finaal afgeskakel word.
Bedwelm deur hubris en ’n misplaaste mening van sy belangrikheid, het Malema, nes oudpres. Thabo Mbeki, die fatale fout gemaak om Zuma se ingebore talent vir politieke strydvoering en oorlewing te onderskat. Soos met Mbeki, is Malema se einde streng binne die reëls van die ANC georkestreer – ’n soort dood deur reglement en prosedure.
Die vingerafdrukke van Zuma sal moeilik op die toneel gevind word, maar almal weet hy was daar.
Met Malema uit die weg geruim, lyk Zuma se opmars na Mangaung meer seker en dié van sy potensiële teenstanders – van wie baie op die steun van Malema en sy nou dodelik gekweste jeugliga gereken het – minder so.
Onder die teenstanders wie se name sporadies opduik, het mnr. Mathews Phosa onlangs sy kop bo die loopgraaf gewaag deur die regering – en by implikasie Zuma self – openlik te kritiseer vir die fiskale ingryping in Polokwane.
Dit was nogal ietwat van ’n verrassing.
Dié voormalige premier van Mpumalanga is nie sonder presidensiële ambisie nie, maar is bekend daarvoor dat hy verkies om sy twak droog te hou en geduldig sy kans af te wag. Dit laat ’n mens wonder oor sy skielike liefde vir die beleërde regering van die onbeholpe premier Cassel Mathale. Dit opper ook vrae oor sy disposisie jeens skoon regering.
Limpopo is natuurlik ’n ANC-vesting. In die algemene verkiesing van 2009 het die ANC byna 85% van die stemme gekry (teenoor sowat 75% in die Vrystaat en 61% in Noord-Kaap).
Limpopo is wel die provinsie van Zuma se grootste triomf, maar die melk tussen hom en ANC-leiers daar het intussen versuur. Limpopo is ook Malema se agterplaas, maar selfs hy is nie meer oral so gewild daar soos vyf jaar gelede nie.
Phosa se kritiek op die ingryping in Limpopo is byna onmiddellik deur die ANC-hoofsekretaris en Zuma se uitsmyter, mnr. Gwede Mantashe, gerepudieer. Daar heers ’n ongemaklike skietstilstand, maar Phosa, wat al in 1997 in Mafikeng sy hoed teen Zuma om die visepresidentskap van die ANC gegooi het – hy het hom onttrek – het nou sy hand gewys. Hy is dus op Zuma se radarskerm.
Met die aankondiging vandeesweek dat ANC-takke nou intern kandidate vir Mangaung mag bespreek, sal dit interessant wees om te sien waar Phosa en ander moontlike kandidate teen Zuma staan.
Wat om oor hulle te doen, is nou vir die president belangriker as om indruk te wek met alledaagse goed soos staatsredes.
Moet dus niks meer as die alledaagse verwag nie – variasies op dieselfde temas van die afgelope vier jaar, so reg uit die presidensiële herwinningshouer.
- Volksblad