Die onding van ekstremisme
2012-01-02 21:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Leopold Scholtz
DIT het waarskynlik nog nooit in die geskiedenis gebeur dat ’n skaam, agtjarige skoolmeisietjie met ’n bril en ’n poniestert wêreldwyd soveel aandag getrek het nie.
Tog het dit gebeur met Naama Margolese van Beit Hemesh, wes van Jerusalem. Omdat sy die katalisator was waardeur die morele verwerplikheid van ekstremisme – énige ekstremisme – aan die kaak gestel is. Naama loop daagliks van haar ouerhuis skool toe en terug. Totdat sy op ’n dag in trane weier om weer te gaan.
’n Groep ultra-ortodokse Jode skel haar uit, spoeg selfs op haar omdat sy in hul oë nie “kuis geklee” is nie.
Sy dra dieselfde soort gewone klere as tienduisende meisietjies van haar ouderdom in Suid-Afrika. Maar die Joodse religieuse ekstremiste eis dat sy van kop tot tone bedek moet wees.
Die ortodokse ekstremiste in Israel is aan die opruk. In stadswyke waar baie van hulle woon, dwing hulle byvoorbeeld vroue om ágter in die bus te gaan sit. Toe ’n vrou onlangs weier, het dit selfs tot geweld gelei.
Ortodoks-ekstremistiese soldate weier om saam met vroulike soldate te dien.
Naama se lot word nie hier opgehaal om anti-godsdienstiges se agenda te dien nie. Inteendeel, godsdiens kan ’n onvervangbare positiewe rol in die samelewing speel, mits dit met nederigheid en verdraagsaamheid geskied – soos die Man van Nasaret ons geleer het.
Wat met Naama gebeur het, word ook nie gebruik om te wys hoe sleg die Israeli’s is nie. Inteendeel, die ortodokse ekstremiste vorm slegs sowat 10% van die land se bevolking, en selfs die konserwatiewe regering van premier Binyamin Netanyahu het die ekstremiste se gedrag afgekeur.
Die probleem is dat die ekstremiste se invloed veel groter is as wat hul getalle regverdig. Die politieke magsverhoudinge in die parlement is op ’n naaldpunt gebalanseer, en die ortodokse partye se steun is onontbeerlik as enige koalisieregering wil oorleef.
Dit beteken dat toegewings aan hulle gedoen word wat in geen gewone demokratiese staat denkbaar sou wees nie.
Ook tree die ekstremistiese ortodokse Jode (onder wie uiteenlopende en wedersyds opponerende groepe voorkom) steeds meer op soos die ekstremistiese, fundamentalistiese Moslems in Iran, Saoedi-Arabië en elders.
Vroue word as minderwaardig en in beginsel sleg beskou. Om ’n vrou se arms te sien, meen sommige ekstremistiese Moslems, kan by ’n man ’n spontane saaduitstorting veroorsaak. Wat beteken sy is die werktuig van Satan wat so ver moontlik weggesteek en toegesluit moet word.
Ook in Suid-Afrika is genoeg ekstremiste. Min van hulle is weliswaar religieuse ekstremiste, die meeste is eerder politiek georiënteer.
Soos die ANC-jeugliga, wat pas skoon uitasem van verdriet was oor die heengaan van waarskynlik die wreedste diktator van die 21ste eeu, Kim Jong-il van Noord-Korea. Wie se voorbeeld Mal Bob Mugabe is, die man wat Zimbabwe van sy welvaart gestroop en in ’n dal van diepe ellende gestort het.
Maak nie saak nie. Óns wéét wat die waarheid is. Enigiemand wat anders dink, is óf van sy sinne beroof óf het ’n bose agenda. Hoe ook al, sulke mense moet met vuur en swaard bestry word – en as Juju ooit politieke mag kry, sal die skrywer van ’n rubriek soos dié net een paadjie ken – tronk toe.
Aan die regterkant van die politieke spektrum is ’n klomp ekstremiste wat onder die verwarde indruk verkeer dat die hoeveelheid desibels wat hulle met hul luidrugtige geskel voortbring, eweredig toeneem met die krag van hul logika.
Ekstremisme is ’n onding. Vra maar vir Naama.
Die skrywer is Media24 se korrespondent in Europa.
- Volksblad