Suid-Afrikaanse politici het nog baie om te
leer, en daar is geen beter vertrekpunt as die grondbeginsels wat in die
Grondwet vervat is nie.
As ons van ons kinders verwag om uit die lesse van die
verlede te leer, waarom kan die politici nie ’n opknappingskursus kry in die
reis van apartheid na demokrasie nie?
Ons sal heelwat minder litigasie en hofsake hê as politici en
diegene in die uitvoerende gesag die Grondwet verstaan en sy voorskrifte volg
eerder as om dit aan te val.
Diegene wat die ANC uitkryt dat hy “uitverkoop” het deur te veel
toegewings in die aanloop tot die demokratiese bestel te maak, beledig die
integriteit van Nelson Mandela en die duisende comrades, wit en swart, deur wie
se sweet en bloed die Grondwet geskryf is.
Die bevordering van respek vir die Grondwet behoort deel van die
werksomskrywing van elke staatsamptenaar te wees.
Hoe anders kan ons respek vir
die oppergesag van die reg, ’n nasie van patriotte en ’n verenigde identiteit
kweek?
Die versoeningsgesprekke toe die apartheidsregime met die
ANC-alliansie en talle ander partye om die tafel gaan sit het om ’n padkaart vir
’n demokratiese toekoms te skep, was ’n spesiale tydperk.
Geswore vyande het deur gesprekvoering die land van die randjie van
die afgrond weggekeer en die “reënboognasie” help skep. Toegewings was
noodsaaklik.
Ons wat daar was, weet dit was geen maklike staptog na vryheid nie.
Die winste wat hard beding is, mag nie nou ligtelik afgemaak word
nie.
Dit is boonop absurd dat een van die partye wat ’n ooreenkoms oor
’n grondwet bereik het, dit enkele jare afskiet as een van die hoofoorsake van
die gebrek aan transformasie.
Dit is presies wat Ngoako Ramatlhodi, ’n lid van die ANC se
nasionale uitvoerende komitee, en ander senior ANC-lede die laaste tyd gedoen
het.
’n Aanval op die Grondwet is ’n aanval op die hart van dit waarvoor ons
geveg het.
Die Grondwet stel dit duidelik dat maatskaplike gelykheid – die reg
op onderwys asook gesondheids-, welsyn- en basiese dienste – bevorder moet
word.
Die ANC het nie uitverkoop nie.
As senior leiers in die ANC vandag ’n sondebok vir hul mislukkings
soek, moet hulle dit elders soek – en sommer in die regering begin waar sommige
“magte van verandering” ’n teleurstelling is.
Politici moenie hulself probeer verontskuldig dat sekere goed wat
in die raamwerk en gees van die Grondwet vervat is, nie verwesenlik is
nie.
Die skuld vir te stadige verandering moet gegee word aan ons leiers
wat nie hul visie binne die raamwerk van die Grondwet gestalte kon gee nie.
Wat ons vandag beleef, het in ons wagbeurt gebeur.
Dit is ’n
wekroep om van rat te verwissel voordat dit te laat is.
Wat my nog meer bekommer, is die onbehoorlike haas waarmee die ANC
die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting deur die parlement gedryf het.
Dit is nie ’n stryd tussen die media en die staat nie, maar een wat
die grondwetlike regte van die land se burgers bedreig.
In tye soos hierdie moet ons na ons grondleggers terugkeer en
verstaan waarom ons die Grondwet moet verdedig.
Ek besef nou ons beste wapen is ’n aktiewe burgery.
Ons moet
woedend wees oor korrupsie en ondoeltreffende dienslewering.
Ons het immers ons
regte deur ’n moeilike stryd gekry.
My boodskap aan alle Suid-Afrikaners is: Beveg enige poging om die
geskiedenis te herskryf, veral as ’n aanval op die Grondwet die toekoms negatief
kan raak.
Die beskerming van ons toekoms is elkeen se plig.
Ons het daarvoor
geveg en ons is dit aan ons kinders verskuldig.
)?Dié
rubriek deur mnr. Naidoo, ’n voormalige ANC-kabinetsminister, het eers in City Press verskyn.