Afsydige Britte Europa se kos?
2011-12-19 22:02
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Leopold Scholtz
IN Brittanje en op die Europese vasteland is die afgelope week of meer intensief gedebatteer oor die meriete van mnr. David Cameron, Britse premier, se verset teen ’n nuwe EU-verdrag om lidstate tot begrotingsdissipline te dwing. Uiteindelik was dit 1 teen 26 – Brittanje teen die res.
Die konsensus op die vasteland (en onder ’n Britse meerderheid) was dat Cameron sy land hierdeur heeltemal geïsoleer het. Brittanje het teruggekeer na die beleid van “splendid isolation” van vóór 1904, is gesê.
Daar word selfs gegis dat Brittanje mettertyd heeltemal uit die EU kan stap.
’n Groeiende aantal Britte sal so iets verwelkom, en pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk het ook al enigsins leedvermakerig gesê dalk moet die Britte dan maar padgee as hulle wil.
Reeds sedert die Renaissance het agtereenvolgende Britse regerings, met detailwysigings, ’n merkwaardig konsekwente beleid oor die Europese vasteland gevolg. Dit het daarop neergekom dat hulle geen vaste bondgenootskappe met enige Europese moondheid aangaan nie, maar alliansies sluit en verbreek na gelang van die omstandighede.
Die oorkoepelende doel was om die magsewewig op die vasteland te handhaaf en te keer dat enige moondheid so sterk word dat hy die vasteland kan oorheers. In so ’n geval sou ook die Britse belange nadelig getref word.
’n Vinnige blik op die geskiedenis wys dat Brittanje beurtelings met Pruise en Oostenryk teen Frankryk en Spanje saamgespan het, toe met die Franse teen die Spanjaarde, met die Oostenrykers en die Russe teen die Franse en die Spanjaarde, en vervolgens met die Pruise teen die Russe en die Franse. In die 20ste eeu het die Britte saam met die Franse en Russe teen die Duitsers geveg.
Brittanje het hom nie totaal afsydig gehou nie. Hy het bloot geleentheidsalliansies bo permanente bondgenote verkies.
Lord Palmerston se beroemde uitspraak moet teen dié agtergrond gesien word: “Lande ken geen permanente vriende nie; slegs permanente belange.”
Selfs die sogenaamde Entente Cordiale van 1904 met Frankryk, wat prakties gesproke die begin van die einde van “splendid isolation” was, is destyds nie so gesien nie.
Ná 1945 het natuurlik die Koue Oorlog gekom, en Brittanje se permanente lidmaatskap van Navo en later van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (tans die Europese Unie). Dit was ’n behoorlike koerswysiging, hoewel agtereenvolgende regerings steeds hul lidmaatskap gebruik het om te probeer keer dat die Duitsers en die Franse Europa oorheers.
Brittanje het nooit met sy hart deel van die Europese familie geword nie. Sy verstand was wel daar, maar in sy hart het hy steeds na sy gewese ryk en sy transAtlantiese band met Amerika gekyk.
Intussen, as die Tories se regtervleuel die oorhand kry, kan dit inderdaad die einde van Brittanje se EU-lidmaatskap beteken. En dit kan in die praktyk ’n terugkeer na die relatiewe isolasie van die 19de eeu en vroeër inhou.
Die vraag is of dié standpunt, wat meer deur ideologiese as deur pragmatiese oorwegings bepaal word, wys is.
Inderdaad word wêreldwyd teen globalisering geprotesteer, maar dit is om teen die prikkels te skop.
’n Geïsoleerde Brittanje is ’n land sonder invloed. Talle kommentators het die laaste dae dié EU-gesegde aangehaal: “As jy nie aan die (onderhandelings)tafel sit nie, is jy deel van die maaltyd.”
Met ’n Brittanje wat homself polities geneutraliseer het, is die pad oop vir Duitsland (met Frankryk as sy junior vennoot) om Europa te oorheers.
Beteken dit dat Duitsland uiteindelik tog die twee wêreldoorloë gewen het?
• Die skrywer is Media24 se korrespondent in Europa.