Verdien jou bynaam soos ’n medalje
2012-01-12 21:57
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
EK ry vanoggend so op Vrydag die Dertiende versigtig hier uit Gauteng uit Mangaubloem toe vir ’n funksietjie om die top-matrikulante in die Matrikulant van die Jaar-kompetisie daar in Kovsieland te verwelkom en by te wees as die Kovsie Alumni Trust sy beurse aan hulle oorhandig.
Nee, ek dink nie ons gaan ’n bul slag by dié geleentheid nie.
So gaan my gedagtes ver terug na 1971 en my en ou Barry se epiese treintog universiteit toe.
En al seker ding wat ek die “jarre” kan beloof is dat al vang hulle nie graad nie, hulle waarskynlik ná drie of vier jaar Kovsies ten minste met ’n splinternuwe bynaam sal verlaat.
Met my omswerwinge deur die land ontmoet ek baie jong oud-Kovsies en dan bel ek dadelik my dogters om te sê ou Jan, Koos, Henning, Thys of Jaco sê groete. Ná n lang stilte kom die onvermydelike vraag: “Het hy nie dalk vir Pa gesê wat sy bynaam was nie?” En as ek dan met Rooi Jan, Troep, Orrel, Ystermuis, Jan Lekkers, Jan Grappies, Kaas, Hopper of Konyn uitkom, is daar ’n gil van herkenning.
En die aantyging: “Hoekom het Pa nie van die begin af so gesê nie?!”
My eie laaitie sit met die naam Groen Piet (nie Blou nie) opgesaal en dié sal hy maar moet saampiekel deur die lewe.
Onder die oueres is ’n bynaam soms bietjie van ’n tameletjie want jy bel ’n ou waarvan jy net die bynaam ken, hoor jy sommer aan die ou se stem hy wat ’n pilaar in sy gemeenskap is, wil ná dertig jaar nie eintlik meer as Vettie, Fiefie, Draadkar of Vink aangespreek word nie.
Gelukkig dra manne soos Paal Pretorius daai bynaam van hom lewenslank met trots – want wie sal nou ná al die jare weet van wie ons praat as ou Paal skielik daar by die gholf Koos of Jan Pretorius sou word?
En kan jy jou dit indink as jy met al die plekname wat in ons ou landjie verander, nog jou ou koshuispêlle êrens op hul doopname moet gaan soek!
So hou wat julle het, Skillie, Pot, Allas, Flash, Shortie, Ysterkop, Oupa, Chopper, Daiz, Oorlog, Pilot, Pous, Padré, Wors, Moemfie, Zonk, Boerbok, Beer, Stompie, Botter, Loepie, Die Mens, Skammat, Kapous, Toffie, Kop, Spice, Pokkels, Boom, Dagga, Veldmuis, Goofy, Plattie, Kadawer, Cheetah en enige ander oud-Reitzman wat ek dalk oorgeslaan het.
En julle nuwe “jarre”, onthou ’n bynaam is soos ’n medalje. Jy moet dit verdien!
- Volksblad