Statisraaidiens en die Goutrein
2011-08-04 18:52
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Ek het die bibberende voorreg gehad om laasweek die koue op Bethlehem (die een sonder die ster) te trotseer. Gelukkig darem by ’n lekker witwarm oud-Kovsie- kuier daar langs die dorp met die rektor op sy stukke.
Maar kyk, ons ouens wat hier in Tshwanetoria soos bobbejane teen die hange van die Magalies in die son grootgeword het, ken nie daai klas van koue nie!
Dit was so koud die hoenders het na KFC toe gehardloop vir hitte en nie weg nie en die einste rektor vertel dat selfs die politici laasweek vir een keer hul hande in hul eie sakke gehad het!
Ek het maar vasgebyt en klaar gewerk vir volk, vaderland en my alma mater, maar toe ek sien hulle begin Donderdagoggend daar op Bethlehem by die troeteldierwinkel in Kerkstraat pikkewyne verkoop, het ek myself haastig uit die voete gemaak.
Oom Kas sê hy’t gesien die Groot Gryse se Stigting gaan nou teen R5,6 miljoen ’n akademiese program ontwerp om die jeug van ons ou landjie te leer om meer soos Madiba te dink en op te tree. “Dis ’n puik plan maar behalwe dat die jongklomp se ouers hulle daai goeters moes geleer het, kan ek vir hulle sommer verniet ’n opsomming maak,” reken die oom.
“Al wat die kinders mos hoef te weet is, as jy soos Madiba wil wees, jy net die volgende ou dingetjies moet doen – wees vriendelik met almal en nie net die ouens wat soos jy lyk nie; wees tevrede met één vrou; moenie meer kinders hê as waarvan jy die name kan onthou nie; moenie goed nasionaliseer wat nie joune is nie; bly uit die hof, en moenie met tiervelle dans as jy eendag ’n goeie werk in die stad wil hê nie. Maklik, nè?!”
Jaaa my oom, maar makliker gesê as gedaan. Hoekom ons nou nog wil bodder om ’n sensusopname te hou, gaan my verstand te bowe want Statistiek Suid-Afrika het dan so pas aangekondig dat ons bevolking nou op 50,59 miljoen staan. Nie 50 miljoen nie, maar presies 50,59miljoen! Dis nou presies geskat.
Dik Daan sê hy kan nie glo die Statisraaidiens gaan nou op die nag van 9 Oktober 2011 almal by die huis probeer hou om hulle te tel, miljarde bestee (waaronder R116 miljoen net vir bemarking) en dan oor drie jaar breëbors aankondig dat ons op die nag van 9 Oktober 2011 presies 50,59miljoen siele in ons land gehad het waarvan die helfte nie Suid-Afrikaners was nie. Praat van geldmors! Nee wat, neem dan eerder ’n foto van die maan af en raai oor!
Ons is mos maar ’n redelik siniese en wantrouige ou volkie (en seker meestal met goeie rede), so min van ons het daar in 2006 rond gedink die dag gaan aanbreek dat ons rêrig op die Goutrein sal ry.
Dis toe die groot molle die wêreld daar om die Rosebank Mall begin omdolwe het en ons laat was vir elke liewe afspraak in Johannesburg. Nou ja, ek het nog nie self die voorreg gehad om daai blinknuwe wille perd te gaan ry nie, maar dit was baie lekker om gister daar in Centurion in ’n restaurant te sit en hom elke paar minute daar bo in die lug te sien verbyblits.
O ja, en moet ek bieg, ek was ook een van die ouens wat gedink het ons kan nie ’n suksesvolle Wêreldbeker-sokkertoernooi aanbied nie. Ai, as ons nou net heeltyd so kon presteer!
My jong vriend Ju-ju Malenema beweer mos dat ’n kontrak van R1 miljoen “uit” is op hom. Behalwe dat Ju-ju homself waarskynlik totaal en al oorwaardeer, kan ek nie nalaat om die volgende vrae wat in Lood se Praatjies in Beeld, Volksblad se susterskoerant, gevra is met my Vrystaatse vriende te deel nie.
Met apologie en dank aan Lood: Is ’n behoorlike tenderproses gevolg vir die “hit” op Malema? Is die kontrak toegeken aan iemand sonder ’n nefie, niggie, boetie of sussie wat ’n regeringsamptenaar is? Was R1 miljoen die goedkoopste tender? En is die kontrak toegeken aan iemand met bewese kundigheid en ervaring?
Mense, was daar al in die aanaale (dié verkeerde spelling is reg) van Bokrugby ’n swakker span, maar hoekom in die parlement gaan verduidelik?
Net twee ou vragies wat die parlement nie gevra het nie: Behalwe Snorre, gaan nog iemand geld kry vir laas Saterdag en waar is Dok Luyt en sy faksmasjien in ons volk se donkerste uur?!
Ten minste gaan ons darem nie môre weer aan die verloorkant wees nie.
- Volksblad