Skoonma ook ’n gevaarlike wapen?
2011-09-29 22:30
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
PARTYKEER weet ’n mens nie of jy moet lag of huil of maar vir veiligheid albei gelyk nie.
Vat nou net hierdie nuwe wets-ondingwerp op speelgoedgewere en pepersproei. Die geregsdienaars van die staat slaag daarin om in ses jaar 18000 vuurwapens te “verloor”, maar dink ’n wet uit wat in teorie enigiets van ’n baardskêrtjie tot ’n sak skerpioene kan verbied.
Onder die gevaarlike wapens is “enige objek” wat ’n persoon tydelik buite aksie kan stel (darem nie permanent nie!). Items waaraan ek kan dink wat sal kwalifiseer, is byvoorbeeld ’n gholfbal, ’n breipen, ’n skoonma, ’n hamer, ’n bottel vodka, ensovoorts.
En sou kleuterskole moet aansoek doen vir vuurwapenlisensies voor die laaities weer cowboys en kroeks mag speel? Soos die Ingelse sê: “The mind boggles”, oftewel die verstand het ’n boggel.
Dis seker bietjie mostert ná die osstert en die braai in sy maai, maar ek wil darem net my hoed hoog van my ou kaal kop lig vir die jong man wat die stang (of liewers die tang) gevat en voorgeloop het. Nasionale swerfenis-braaidag bly ’n rein gedagte!
Ek het sommer Sondagaand vir Jan Braai vir die Idolstitel gestem. My volgende mikpunt is om hom te kry om die ander 30 “something”, ou Juju, teen te staan as Joef Lief-leier en dan natuurlik daarna die presidentskap van ons hele geknelde landjie oor te vat. Dan braai ons ons binne drie jaar uit die gemors uit.
Hoekom ek natuurlik vir Jan Braai wil stem vir enige pos, is omdat hy vreesloos verklaar dat dit normaal is om vier keer ’n week te braai en dat braaivleis gesond is.
As ek mos ’n Desember nie kan bekostig om weg te gaan nie, koop ek ’n bakkievrag hout en maak elke dag vuur al braai ek net ’n weense worsie en luister na my ou plaat van die Seunse Weens-koor.
So Jan, as ek mag, al is dit nie namens al ons piepols nie, maar net namens my en my maters: dankie man! In die onsterflike maar ietwat verdraaide woorde van dr. Alan Paton in 1948: “Braai the Beloved Country”!
Toe ek en die ander ou maters Saterdagaand daar by ou Jo se lekker Bosveldmix-vuurtjie staan en teug aan ’n Duitse bruisdrankie terwyl die ou “rump”-vetjies so in die kole sis, toe besef ek ook maar weer dat elke ou sy eie manier van braai het, dat elke ou sy vrou op sy eie manier soen, sy kinders op sy eie manier reg en verkeerd leer en dat elke ou sy eie definisie het van wat vir hom humor uitmaak.
En snaaks genoeg, ek het nie ’n saak hoe ’n ou sy vleis gaar kry, sy vrou soen of sy kinders foeter of nie foeter nie, maar wat ek wel weet, is dat ek nie een goeie pêl het wat nie vir dieselfde dinge as ek lag nie.
En lag is nie vir my en my maters ’n pynlike ding waaroor ons hoef te wroeg nie, ons lag sommer net omdat dit lekker is. Nie omdat ons ligsinnig is nie, maar omdat dit saam met hysbak- en branderry een van die min dinge is wat nog verniet is. Jy mag dit selfs oorweeg om meer as vier keer ’n week bietjie te lag.
Die ander geluk is natuurlik dat ons so verskillend is. Nie net as ons braai of soen nie, maar ook as ons lag. Jy kry mos mense wat lag as iemand anders val en seerkry, ouens wat dink ’n grap kan net snaaks wees as hy ten minste vier “f-”, vyf “k-” en twee “d-” woorde inhet, en dan natuurlik mense vir wie jy die snaaks moet verduidelik as almal al klaar gelag het.
Wat mý laat lag of dalk net laat glimlag? Toe my seun in graad agt ’n taak oor die vlakvark en dié se kleintjies moet doen en hy só vir die woordeboek kyk en vir my vra: “Pa, ‘offspring’ is mos buiteseisoen, nè?” Ja, lekker vlak, vark-humor.
’n Seuntjie van nege kom Vrydagoggend elfuur by die huis aan. “En nou?” vra mammie. “Nee juffrou en die hoof het gaan braai, Mamma.”
“Hoe weet jy dit Boeta?” vra Mammie bekommerd, want dis dan eers môre braaidag. “Meneer het oor die interkom gesê juffrou moet dadelik kantoor toe kom en haar rooster saambring,” verduidelik hy.
Nou ja, gelukkig, anders as met al ons ander vakansiedae, weet ons nou ons hoef nie te wag vir volgende jaar se Swerfenisdag nie. Onthou, vier keer ’n week is doodnormaal. Dis nou vier keer ’n week braai, hoor!
- Volksblad