Parasitiese kinders en paalbekruipers
2011-10-06 22:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
VRIENDE, vriendinne, piepols en mense, ons is nou by daai vreesaanjaende deel van hierdie rugbystorie.
Daai deel waar jy soos met die mallemeule by die skou op die hoogste deel van die “Big Dipper” sit en afkyk grond toe.
Al is jy hoe bang, jy kannie meer afklim nie, so die enigste ding wat jy maar doen, is om jou oë toe te knyp en heeltyd te skree tot jy voel die ding staan doodstil onder op Moeder Aarde.
Môre en Sondagoggend net ná ses sluit ou Dennis spesiaal sy restaurant vir ons oop en begin koffiewater kook en eiers bak en dan draf ons saam met ons manne Doer Onner op.
Saam met ons kyk een van die Bokmammies, Pierre Spies se ma, Deidre, wat met Neef Bartel getroud is.
Arme Deidre raak sulke tyd net altyd stiller en stiller en dan wonder ek, as ék so op-“tense”, hoe moet ’n mammie en pappie nie voel nie? Sterkte vir Sondag se mallemeulerit julle!
Ek moet sê ek was vrek verlig toe ek hier teen Woensdag se kant beeldmateriaal gesien het van die Bokke wat sowaar weer bietjie liggies oefen, al was dit nou met sulke pikante kappies om diereën uit hul oë te hou.
Dit voel vir my al aksiefoto’s wat ek die laaste drie weke van ons manne te siene gekry het, was foto’s op die gholfbaan, by die viswaters, besig om te “river raft” en les bes, besig om kinders op te pas terwyl die mammies inkopies doen.
Ek weet ek is seker ou-skool, maar ek raak baie bekommerd as ek ’n foto van Fourie du Preez met Fourie jr. in sy arms sien. Sou onse Bokke snags pajamadril ook moet doen? Wat sou Oom Boy Louw en Lucas Strachan-hulle gesê het as die vrouens en kinders in 1937 saam op toer Nieu-Seeland toe wou gaan? Eishhjj!
Dis darem tragies van daai oom en tannie in Nederland wat nou sowaar ’n hofbevel moes kry om ontslae te raak van hul 43-jarige parasiet van ’n seun wat hulle nie uit die huis geroer kan kry nie.
Die slegte nuus is dat hy waarskynlik 70 en hulle twee dood gaan wees teen die tyd dat die appèlsaak ook afgehandel is.
Kinders is ’n wonderlike gawe, maar jy wil darem ook nie dié ou gawetjies by jou in die huis hê tot jy ouetehuis toe gaan nie, of hoe?
“Ja-nee,” sê ou Sarel daar by die Boeremark. “Die enigste ‘foolproof’ manier om deesdae van jou kinders ontslae te raak is om maar self dood te gaan.” Drasties maar nogal waar!
’n Kind kan darem seker nie gewoonlik geklassifiseer word as ’n onwelkome gas nie, maar die Hollanders se storie laat my dink aan die vêrlangse familie wat hulle destyds met vyf kindertjies vir weke by Koos Meyer se plek by die see tuisgemaak het.
Toe dit so na die derde week se kant toe gaan en dit nog steeds ná elke liewe skimp in die boek nie lyk of die spul gaan aanstaltes maak nie, roep Oom Koos een van die snotneusies nader en vra versigtig: “Het jou pa gesê wanneer julle gaan ry?” “Nee Oom, my pa sê ons bly want die prys is reg!” En tóé bly hulle eers!
Ek en my ou maters het hierdie week ons lysie van gevaarlike wapens wat die regering in die toekoms kan verbied nog verder uitgebrei.
Ekstra items waaraan ons kan dink wat jou tydelik buite aksie kan stel, is byvoorbeeld ’n rubberhamer vir ’n strandsambreel, ’n rugbytok in die suidelike dele, ’n groen naartjie, ’n narkotiseur, ’n baksteen, ’n baksteen in ’n handsak en ’n gewone vrou se handsak met die gewone goed wat die gewone vrou gewoonlik in ’n handsak sit (minus pepersproei).
Om nie te praat van die erg gevaarlike goed wat jy by jou mag hê wat plotseling “tydelik” in “ewig” kan verander nie. Dinge soos ’n R18 miljoen se buffelbul, ’n R2 miljoen se buffelbul met ’n wrok oor sy minderwaardige prys, enige buffelbul wat in sy eer of enige ander plek aan sy lyf gekwes is, ’n gekweste Bloubul, enige “woman scorned”, vriende van wyle Lolly Jackson, vyande van wyle Lolly en so kan mens aangaan en aangaan.
En so van wyle Lolly en die poppe wat dans, gepraat: Dik Daan sê sy buurman dink dis hoekom sy vrou nie wou gehad het hy moes hierdie week Teazers toe gaan nie. Hy sê wat hy net nie weet nie is of sy die bangste was dat hy deur die moordsluipers of deur die paalbekruipers bygekom sou word.
- Volksblad