Oor erge hitte en vreemde weer wat wag
2012-01-19 22:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
NOU ja, daar gaat ons weer op volspoed sonder brieke, met of sonder voornemens vir die jaar. Ons het darem al sover die jaar die bulslagtery, Nuwejaar op Muizenberg sowel as Vrydag die dertiende oorleef en hopelik is die ergste hitte ook nou gebreek.
Ek lees juis dat ons in die nuwe jaar vreemde en stormagtige weerstoestande kan verwag met baie reën van Februarie tot April. Maar ek moet sê as ek kyk hoe die arme mielietjies staan en skroei soos ek gery het, dink ek nie daar’s te veel boere wat sal kla nie. Soos ’n ou maat altyd sê: “Met reën kan jy darem íets doen, maar met droogte net mooi boggerol!”
Toe ek laasweek daar van die beloofde land af deur die Karoo terugstoom na die kospotte van die farao’s, luister ek na die weervoorspelling en toe sê daai dametjie in ’n soet stemmetjie iets soos: “Warm tot baie warm toestande word voorspel vir die Vrystaat en Noord-Kaap, maar dit kan later omsit na vrek-, bloedig- of helwarm met hoë vlakke van ongemak.” Sjoe!
Ons stop by Jumping Fountain-Suid (voorheen Springfontein-Suid) en toe ek uitklim, voel dit of ’n ou my met ’n vergrootglas brand, want ek het mos ook nie meer my oorspronklike pruik nie. En Dik Daan kla dat dit laas Saterdag op Bethulie so warm was dat hy in die hoofstraat in die teer vasgeval het en uitgesleep moes word.
Nico Nel bel van Ceres af en vertel hoe hulle al heelweek daar voor die Aga-stoof sit om af te koel. Hy reken die rede waarom daar nooit groot krieket in hulle deel van die wêreld gespeel word nie, is ook oor die hitte (nou die dag se wedstryd in die Paarl gaan volgens hom nie gou weer herhaal word nie). “Maar dis nie net oor die spelers se ‘radiators’ begin kook nie,” verduidelik hy. “Dis eintlik omdat die TV-tegnologie nie hier kan werk nie.”
“Hoe so?” wil ek weet. “Ek sê jou, dis so warm hier in ons deel van die wêreld dat daai ‘hot spot’ op die kolf nie eers hier wys nie. Nie soveel as ’n merkie nie!”
Hy vertel toe sy kinders klein was, het hulle daar deur die Boland emmers vol gesweet met hulle ou Kombi sonder lugreëling. As hulle wegtrek by die huis, sit hy wat Nico is die warm lug volspoed aan. Dan kla die arme bloedjies en vra pa moet asseblief die “aircon” aansit.
“Ek sit dan net die warm lug af en siedaar, eers toe hulle groot was en die Kombi lááng jare al verkoop, het ek gebieg dat hy eintlik nie ‘aircon’ gehad het nie.”
- Volksblad