Oor Moegenoeg en regstryd in Bfn
2011-09-08 23:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
NOU ja, Dominee Rooijan, ek wil maar net deur u by die kerkraad en ou-dominee verskoning maak dat ek Sondagoggend bietjie vroeg uit die erediens sal moet wegglip, maar ek het ongelukkig ’n ander ou afsprakie.
Maar Dominee, al is ek daai tyd aan die jaag vir die afskop (ja, laat ek maar bieg oor die afsprakie) sal ek dit tog waardeer as u in u slotgebed ook sal dink aan ons manne daar in Nieu-Seeland.
Wat my ondersteunerstrui betref, is ek ook nou totaal verward en sukkel om te onderskei tussen reg en verkeerd. Ek sien nou dis die Chinese wat Saru se ware Jacob-trui by die miljoene gehekel het en ek was die heeltyd onder die indruk dat die ouens op die straathoeke Chinese namaaksels verkoop.
Dominee, sou dit dan verkeerd wees van my as ek ’n trui wat plaaslik gemaak is, op die straathoek by ’n Chinees koop, of is dit beter om die Chinese trui wat vyf keer so duur is, by die sportwinkel te gaan koop? Praat van tye wat verander het!
Ná laasweek se Malemoleste daar in Egoli sê Oom Kas juis dis net vir hom ongelooflik hoe dinge gedraai het. “ Sou jy in jou wildste drome kon dink dat die dag sou aanbreek dat jy ’n voorheen benadeelde, tans bevoordeelde ou sou sien wat met ’n Springboktrui aan in Johannesburg se middestad klipgooi na Luthuli-huis omdat hy de hel in is vir die ANC?” mymer hy dié week.
Ja-nee, voorwaar interessante tye waarin ons lewe!
Die arme regter Moegenoeg Moegenoeg se dae lange inkwisisie het my baie laat dink aan die dag toe ek agter die Chinees by die inligtingstoonbank van Blapsa gestaan het. Die vrou van die bank verduidelik toe vir die arme taalverwarde Oosterling dat hy twee keuses het en een van die twee op die vorm moet merk.
Tot daar verstaan ek en die Chinees nog alles, maar toe voeg sy by: “But remember, you have only one choice.” Ek toe sien ek die Chinees verstaan nie en ek neem hom nie kwalik nie.
Nou ja, met Zuma Zuma wat Kemp Kemp as advokaat verkies en Moegenoeg Moegenoeg as hoofknegter, moet ons seker tevrede wees dat ons in ons ou landjie ten minste nog uit een regter kan kies. So regter of slegter, Viva Viva vir keuses keuses!
’n Mens beleef mos so nou en dan ’n dag waar daar soveel interessante en lekker goed gelyk met jou gebeur dat jy nie kan bybly nie. Laas Vrydag was nou daai dag vir my.
Dit het die oggend vroeg begin met ’n manne-ontbyt by Laerskool Fairland in Johannesburg waar ek die voorreg gehad het om saam met ’n skare pappies, geklee in groen Chinese rugbytruie, na een van my groot helde te kon luister. Ja-nee, ons het baie gelag, maar ook ’n traan of wat weggepink want as jy nou rêrig ’n rolmodel en voorbeeld soek, hoef jy nie verder te kyk as daai Vrystaatse Springboklegende André Venter nie. Dankie, my maat!
En toe is dit sommer aan met die N1 Bloemfontein toe waar ek skuins ná vier die middag aangejaag kom – net betyds om te sien hoe die prokureurs opwarm teen die advokate (wat hoofsaaklik bestaan het uit die smeer van Deep Heat en Wintergreen asook diep asemteue). Ek moet sê, anders as wat ek verwag het, was dit een van die beter wedstryde wat ek hierdie jaar in Bloemfontein gesien het en anders as die ander span wat gewoonlik daar speel, het die regslui albei helftes oopketel gespeel al was party ouens moegenoeg.
Die ander ding wat my opgeval het, is dat die advokate mekaar glad nie in die lynstane ondersteun het nie – seker maar soos in hul beroep, elke ou vir homself.
Manne, bly net fiks vir die “revenge” in 2026!
En my laaste lekker lekker op daai mooi Vrydag Vrydag natuurlik Kovsie Alumni se wonderlike toekenningsdinee die aand daar in die Eeufeessaal – soos elke jaar ’n geleentheid waarop elke oud-Kovsie opreg trots kan wees.
Intussen wag ek en my ou maters in spanning om uit te vind of ons saam met ouens soos Bono, Oom Jimmy Carter (leef hy sowaar nog?!) en Branson genooi gaan word na Arch Tutu se 80ste verjaardag daar in Oktober op die wynplaas in die Boland.
As ons teen Maandag nog niks gehoor het, sal ons maar eerder saam met Johan Rupert in sy “jet” na die Bokke gaan kyk. Ek weet ou Snorrie sal baie teleurgesteld wees as ons nie daar opdaag nie, so ons kyk maar wat gebeur.
- Volksblad