Net die Bulle teen Bokke se nuwe breier!
2012-02-02 22:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Blouwillem Theron
Nou ja, daar’s die eerste maand van die jaar al weer in sy peetjie in! Ons het ’n nuwe Bokafrigter, onse President is tydelik terug op besoek aan ons land, en ons petrol is op. Letterlik en figuurlik. En dit alles in ’n enkele maand!
Wat die verstand te bowe gaan, is dat die hele land verheug is oor Heimlike Meyer se aanstelling, maar dat die Bulle van alle wesens hom dit misgun. Hoe verstaan jy daai een?
Ja-nee, dis mos baie belangriker dat die Bulle se onder 31-span die Wêreldbeker vir onder 31’s wen, hul amateurspan teen Paraguay seëvier en hul vrouespan Vrydagaand se “girlie night” wen as dat die Bokke presteer.
Prioriteite is mos darem prioriteite.
Oom Kas sê hy het ’n vars teorie oor die ekstra vliegtuie wat so om die Stinkwazi swerm as ons president oorsee vlieg. “As jy nou die grootbaas was wat gevlieg het met ’n hele yskas vol skaapstertjies, dik filette, kaviaar, perlemoen en jou eie lugwaardinne met kraletjievoorskootjies wat jou in suiwer Zoeloe bedien en bedien én weer bedien, sou jý die kans vat om op een of ander eiland oor te klim op ’n vliegtuig sonder ‘aircon’ en sulke vrek dik waardinne waar jy tussen gewone piepols moet sit en ’n ou growwe rolletjie met pap tamatie en harde kaas moet eet? Jy moet mal wees, man!”
Ons het onlangs ’n week van gebed hier by ons gemeente gehad, maar die eienaardige ding was dat net die dominee hardop gebid het. En toe sit ek en my maters en heimwee kry oor die dae toe jy nog in elke gemeente jou voorsanger en voorbidder gehad het. Oom Jan Bloem, wat so drie reëls van die Psalm vooruit sing, terwyl hy die hele gemeente en sommer die orrel ook saamsleep. Of Oom Giepie wat een jaar met Pinkster so oorgevat het met die gebede dat arme Dominee du Toit hom die derde aand voorkeer en voorstel dat hy iemand anders vanaand kans gee, “want dalk dink iemand aan iets waarvoor Oom nog nie dié week gebid het nie”.
Daar’s mos ’n ou storie van die oom wat daar in Van Wyksvlei se omtes by die biddag vir reën begin het met : “Liewe Here, soos u seker die afgelope tyd in Die Burger gelees het, neem die droogte hier by ons nou krisisafmetings aan.” Of die oom wat bid vir sy kinders in Centurion en dan kinderlik byvoeg: “Ek herinner U net graag dat dié plek vroeër Lyttleton geheet het.”
Ou Fanus sou gekraai het : “Ag hoe mooi!”
- Volksblad