Mangabloem se plakkende, ryk verhuurders
2011-12-29 21:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
EK lê nou al weer van Sondagmiddag af hier soos ’n luislang langs my maag en wag vir my Kersmaal om te verteer. Ek het besluit dat as kospryse in die nuwe jaar nog verder gaan styg, ek maar gaan klaar eet tot so helfte Maart.
Na dese is dit nie net skaapvleis en whisky wat ek nie kan bekostig nie, maar selfs pap en derms! Maar vertel dit vir ons ou landjie se regerende party wat oor ’n week daar in Mangabloem hulle eeufeespaartie gaan hou.
Die gerugte loop wyd dat Johnny Walker Black hier vir Juju uit die saal gaan lig as Joef Lieg-leier. Terloops, waar gaan julle mense plak noudat julle jul huise so ten duurste aan die hogeres en edeles uitgehuur het?
Maar wag, terug na Kersfees; ek is mos op daai mooi tevrede ouderdom waar ek weer sakdoeke en kouse in my Kerskous begin waardeer. Maar Neef Bartel kla dat hy hierdie week soveel moeite gehad het om die onderbroeke wat hy vir Kersfees gekry het, omgeruil te kry.
Hy sê vir die meisie by die toonbank hy het die mooie net kerk toe aangehad en hom dadelik uitgetrek en netjies opgevou, maar sy wou net mooi niks weet nie.
“Hoekom daar in elk geval altyd vier onderbroeke in ’n pak is en net een mooie, sal ek nooit weet nie,” brom hy.
Terwyl ek lê en wag dat my kos verteer, het ek ou Dana se nuwe boek Hiervandaan verslind. Ja, sommer ná ’n middagslapie in een ordentlike sitting (of is daar iets soos lê-ing?) saam deur ons ou landjie se agterpaaie gerits.
As hy skryf oor Brandvlei, Kenhardt en Pofadder, onthou hoe ons met ons Borgward een Oujaarsmiddag daar tussen nêrens en êrens met drie stukkende bande tussen die skerp leiklip bly staan het en hoe ons deur onbekende engele plaas toe gevat en versorg is.
Hulle het vir meer as 50 jaar vriende van my ouers gebly.
Ja ou Dana, waar’s die dae?
Toe ek verlede week ná die dankdiens so deur Ouma Tinkie se goedjies werk, val daar tussen een van haar boekies se blaaie ’n klein velletjie papier uit waarop net staan “Zuma” en langsaan in haar bewerige handskriffie van die laaste maande: Psalm 109 vers 8.
Ek slaan toe nuuskierig die Woord oop en daar staan dit: “Laat sy jare min wees en laat ’n ander hom opvolg.”
Nee ek sal nie kan sê wie dié Zuma op Ouma se flenterpapiertjie is nie.
So in die Oujaar kan ek ook maar net raai.
- Volksblad