Eindstryd volgende Saterdag in Bloem!
2011-10-20 19:51
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MY ou maters sit nou al bedags voor die huis op kampstoeltjies met hul ID’s, hondeliksense en doopseels en wag vir ’n sensus of ’n senbroer om hulle te kom tel, maar ek gaan dié week met ’n bietjie geluk al vir die derde keer ’n sensusvorm invul.
Eers laas Dinsdagaand by die gastehuis in Port Madiba so ’n lekker gesette sensus gesien, toe by ’n plaashuis in Patensie ’n senbroer en hopelik nou enige senmens by my eie huis in Tshwanetoria.
Waar hulle nou vir my goeie dienste gaan voorsien sal net die tyd leer.
Oom Kas, wat daai aaklige Sondagoggend amper ’n aneurisme, ’n klont bloed en ’n aambei gelyk gekry het oor Vice Lawrence se vrot blasery, sê hy weet net as Dari Lam ou nie die ja-woord gekry het om hier te kom kuier nie, behoort Vice ook nooit weer in sy lewe ’n visum te kry om sy voete op onse bodem te sit nie (en dit geld sommer sy twee lynslegters en hul gidshonde ook).
En toemaar Dominee Rooijan, ons sal Sondagoggend kerk toe kom, want selfs ’n twee uur lange preek met doop by is minder pynlik as om te sit en kyk hoe die All Blacks die Wêreldbeker op ’n skinkbord kry net omdat onse Bokke nie daar is nie.
Ek sien die minister van vervoer, Go-slow Ndebele, wil nou hê ’n bestuurslisensie moet in vier fases oor vier jaar verwerf word.
Dit voel vir my dis wat Seun in elk geval destyds gedoen het, want dit het ons ’n jaar gevat om elke keer nadat hulle hom gepluk het, weer ’n nuwe afspraak in Vrede, Makwassie of Swartruggens te kry.
Sjoe mense, dit was vir jou pynlik verby!
Die fases wat minister Go-slow in gedagte het, is blykbaar die volgende: In Fase 1 mag die kandidaat net met die knoppies speel, nie in die kar eet of vry nie en die kar elke dag twee keer was.
In Fase 2 mag hy die kar aansit en hom saggies “rev”, ook saggies en ordentlik begin vry en tussen die motorhuis en voorhek op sy pa se erf stadig vorentoe en agtertoe ry.
In Fase 3 mag hy onder toesig van die bestuurskool (vir wie sy pa dan reeds die vorige twee jaar ongeveer R30?000 betaal het) 5 km per uur om die blok ry en vyf minute by elke stopstraat deurbring.
En uiteindelik die beloofde land, Fase 4! Dan mag die mannetjie snelweg toe jaag ná ’n paar biere en met ’n hond of ’n meisie op sy skoot teen 160 km per uur van lane verwissel terwyl hy vinniger as die Gautrein probeer ry om uit die pad van die lorries en die presidentswag te kom. En siedaar, geluk met jou liksens!
Maar nou ja, dis seker veiliger so as destyds toe ons ons liksense gekry het.
Ou Jan Olie vertel mos altyd hoe hy saam met sy pa ingery het Reitz toe om te gaan “uitpasseer”, soos ons die proses mos daai tyd genoem het.
Hulle twee stop toe by die plaaslike hoofspietkop wat ’n jagmaat van Jan se pa was en sy pa gee vir Jan die sleutels.
Hy laai toe vir Oom Hoofspietkop en sy pa by die hotel af waar hulle twee op die stoep gaan sit vir ’n koffietjie en ou Jan sy orders kry vir die uitpassering.
“Jy ry nou stadig agter om die skool, daarna verby die slagpale en by daai bultjie agter die koöperasie stop jy en doen ’n handbriek-wegtrek sonder om hom agteruit te laat loop.
“Daarna ry jy uit grootpad toe en dan draai jy daar regoor Oom Martiens Steyn se plaas om en kom terug hierheen. Het jy dit?”
En daar trek ou Jan op sy solo- uitpasseringsvaart. Hy kom terug, parkeer versigtig voor die hotel en stap nader. “ En toe, hoe het dit gegaan?” vra Oom Spietkop.
Maar voordat ou Jan kan antwoord, kyk die oom op sy horlosie en vra: “Maar is jy nie bietjie vinnig terug nie?”
Jan se hart bons in sy keel en met ’n droë bek kwaak hy: “Nee Oom, ek het gery nes Oom gesê het.”
“Nou toe, kom ons gaan!” beveel die oom en tien minute later staan ou Jan met sy liksens daar voor die deur van die minsipale. Ja, “those were the days”!
Aan die Cheetahs voor die groot stryd môre teen die Haaie daar in Durbs: Ek was dáár in 1997 toe Naka-hulle teen alle verwagtinge die halfeind gewen het nie.
Die eindstryd is volgende Saterdag in Bloem, manne!
- Volksblad