Bok-kondisionering en verhoogvrees
2011-09-01 20:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
NOU ja, ons Bokspan is gekies en ons staan en val saam met hulle!
Ek dink net dit was baie riskant om ons manne gister met die Gautrein lughawe toe te laat ry. As die kabels weer gesteel was, kon ons hele Wêreldbekerveldtog ontspoor het.
Nadat Frans Steyn sy hare gesny het, het die bagasiemeester darem blykbaar nie ’n probleem met oorgewig op die vliegtuig gehad nie. Kan jy nou dink Snorre, Rassie en Dok Derek-hulle kondisioneer en kondisioneer en net toe hulle Steyntjie se hare perfek gekondisioneer het, toe laat waai hy die lokke!
Ek moet sê, met die span van ou Snorries het ek redelik vrede maar ek is baie senuweeagtig oor die verkragting van ons arme volkslied doer onner. Ons is reeds die enigste land ter wêreld waar jy die volkslied in drie tale sing sonder om een te verstaan, maar as ons sangers ook vou, is dit nag.
Eers was dit daai maer hip-hop swernoot in Parys wat ons volkslied vermoor het en nou was dit Ard wat “ard” teruggekom het “arde” toe.
Dik Daan sê die ouens wat hom gereël het, moes mos geweet het as die man rêrig kón sing sy naam Art en nie Ard nie sou gewees het.
Nee wat, dalk moet hulle nou eerder vir ou Toks ’n permanente kontrak gee (en ’n mooi meisie saam met hom om die nabyskote bietjie sagter te maak).
Sies tog, maar dit moet vreeslik wees om so “stage fright” te kry voor miljuisende kykers. Soos ’n haas in ’n skietlig. Amper soos die dag daar in 1994 toe Seun (toe ses jaar oud) by die kunswedstryd “Die Hond” moes opsê.
Ek sit in die skoolsaaltjie en sweet saam met 60 ander pappies en mammies wie se seuntjies ook “Die Hond” moes voordra en Seun is so 55ste op die lys.
Uiteindelik breek die groot oomblik aan. Ek sit op die punt van my stoel en daar kom hy, my klein Oscar-wennertjie! Hy staan op die regte kolletjie en die streng tante wat lyk soos ’n kruising tussen Heidi se Juffrou Rottenmeier en ’n Nazi-kampkommandante, knik haar kop een keer terwyl sy oor haar brilletjie loer.
My arme hasie kyk in die skietlamp se lig, sluk vier keer en toe grom die tannie: “Jy kan begin!”
Hy sluk nog drie keer en begin met die gevleuelde woorde “Diéééé Hond” (met sterk klem op die “dieeeé”).
En toe, nes arme Ard, slaan hy ’n “blank”. Mej. Rottenmeier beduie hom van die verhoog af en sê hy kan weer aan die einde van die program probeer.
Ons hou ’n noodspanpraatjie agter die skool se rotstuin en twintig minute later staan hy op dieselfde kolletjie, begin weer goed met sy inleiding (dis nou “Diéééé Hond”), vries weer en hol finaal af om nooit weer op die verhoog te verskyn nie.
Toemaar ou Ard, ons weet dis baie “ard” om Nkosi Sikelel iAfrika se woorde te leer.
Ek sien ons Minister van Krotte en Pandokke, Tokyo S*xwale, het ’n taakspan aangestel om Onder Soek in te stel oor die feit dat daar 17 jaar nadat ons ’n demonekrasie geword het, steeds 86443 huishoudings is wat nog van die emmerstelsel afhanklik is.
Terloops, wie’t getel?
Oom Kas wonder of dit nie ’n beter plan is om die hele land weer op longdrops en emmers sit te maak eerder as om fênsie spoeltoilette te hê wat al die onheile teen die spoed van witlig in ons riviere inpomp nie.
Ja-nee, Oom Tokyo en die ander edeles besef hopelik na dié week se Malemoleste voor Luthuli-huis dis maar ’n vrek lang paadjie na bevryding. Overgesetsynde “A Long Drop to Freedom”.
Net ’n laaste woordjie oor groot rugby: ek is spesiaal in Bloemfontein vir ’n wedstryd wat die Wêreldbeker soos ’n laerskoolkompetisietjie laat lyk.
Vandag 16:00 word die groot uitdaagwedstryd tussen Bloemfontein se advokate en prokureurs in die Vrystaatse Hooggeregshof (ag, ek bedoel Stadion) gespeel.
Die eerste van dié roemryke veldslae het in 1966 plaasgevind en daar is besluit dat die wedstryd net elke vyftien jaar sal plaasvind nadat dr. Tim Noakes gewaarsku het teen oorblootstelling.
Bronne na aan die span van die advokate (wat in 1966 en 1981 aan die wenkant was) het laat deurskemer dat hulle bekommerd is oor ’n gebrek aan wedstrydfiksheid ná hul laaste wedstryd in 1996 en hulle eintlik nog aan die bou is vir ’n span met die oog op 2026 se wedstryd.
A luta continua!
- Volksblad