Beskuitgebed en Div wat raakvat
2011-08-25 23:18
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MY Ouma Betta het altyd vertel van die tannie wat daar by hulle in Kakamas so ’n ou yster was met die bakwerk.
Elke basaar of skou was dit Tannie Sannie van Helsdingen (regte naam maar ander van) wat met al die lofliedere en goue medaljes weggeloop het.
By die basaar is daar elke jaar van vroegoggend af tou gestaan om Tant Sannie se mosbeskuit te kan koop.
Maar een jaar sit Tant Sannie se turf, want om een of ander rede wil die beskuit ondanks haar heel beste pogings nie rys nie. Haar hele reputasie is op die spel en radeloos val die tannie in die klein ure van die nag op haar knieë daar voor haar ou jare lange handlanger en vertroueling, haar Aga-stoof, en bid vir ’n wonderwerk.
En sowaar, daardie oggend toe sy met ’n swaar hart die doekie van die eerste pan daar aftrek, is die beskuit hoog en gesond uitgerys en van die mooiste wat sy ooit gesien het.
En dis toe wat ’n handlanger verbyloop en sien hoe die tannie trots terugstaan, háár handewerk so staan en aanskou en toe plegtig verklaar: “Ja-nee, Sannie van Helsdingen, jou ou staatmaker, so ken ek jou mos!”
Nou van laas Saterdagaand af voel ek ook om uit te roep: “Snorre, jou ou yster, so ken ons jou mos!” Wat ’n “coach”!
Ja-nee, ná Saterdag is ek sommer 100 persent seker ons Bokke gaan die goue koppie weer huis toe bring ( terloops, is die ding nie in elk geval nog hier by ons nie?). Hoe ek by 100 persent uitkom, is as volg: Snorre sê hy is 90% seker ons gaan wen en saam met my 10% op die vertroue-indeks is ons mos by 100, of hoe?
Die ander nuwe formule van Snorre wat ons dalk net kan deurtrek, is die 70-10 taktiek. Bismarck speel 70 minute en ons Kaptein span die seile net vir ’n skrale 10 minute en siedaar!
Ons het onlangs oorgeslaan na soesji voor toetswedstryde, want mens kan mos regtig nie goeie biltong op swak rugby uitmors nie. Soos Oom Kas sê, dis nou nog net koperdraad, perlemoen en lamvleis wat duurder as biltong is.
En so van perlemoen gepraat: Ou Nico Nel bied mos nou sy kosprogram Sondagaande op TV aan en so vertel hy my laasweek hulle was juis besig om die program oor perlemoen te skiet. “Maar my maat, weet jy hoe moeilik is dit om agter op ’n bakkie te kook terwyl jy vir die polisie wegjaag?”
Al wat ek weet, is dat die polisie vrek bly kan wees dat onse Brüssowtjie nog nie besluit het om hom op die gaps van koperdraad of perlemoen eerder as op die All Blacks se balle toe te spits nie.
My ou maters wou toe ek dié week van Bloemfontein af terugkom, by my weet of ek toe wel met die Slautrein lughawe toe is. Die antwoord is ja, maar nie ’n eenvoudige ja nie. Daai oggend laai vroutjie my by die Slautrein se bus daar naby ons af en wuif liefderyk toe sy wegry.
Maar ek het nie geld op my Slautrein Goldkaart nie en die busbestuurder waai ook liefderyk vir my toe ek summier weer met my soetkysie moet af van haar bus af. My fout, “sorry”!
Om ’n lang storie langer te maak: Vroutjie wuif wéér vir my by Hatfieldstasie, maar die trein eisshjj nie daar nie, want die kabels eisshjj wéér gesteel en Vroutjie het gery en dié slag kom sy sweerlik nie terug nie.
Twee uur later kom ek met salpeter tot agter my hartspier by die lughawehek aangestoom vir my Bloemvlug. Wat toe twee uur vertraag is. En dan noem hulle hom nogal ewe kontant SA Express!
Ja-nee wat , dis nie net die trein wat ons geduld beproef nie! Dik Daan sê hy’t nie ’n probleem met die feit dat die trein tandekryprobleme ervaar nie, maar hy wat Daan is, voel dis darem nie reg dat hy dan vir die tandarts ook moet betaal nie.
Ek het die voorreg gehad om laas Vrydagmiddag hier by oud-Springbokhaker Willie Kahts se lapa saam met amper 800 rugbymanne (onder wie meer as twintig oud-Bokke) ’n huldigings-ete vir Joost te kon bywoon. Toe ou Joost daar ná sy toesprakie, wat hy met moeite gelewer het, sy Springbokbaadjie uittrek en weggee, toe sien ek hoe groot, tawwe manne soos ou Moaner die lastige nattigheidjies uit die oog wegvee en toe besef ek maar net weer, rugby en sy manne is ’n baie spesiale broederskap wat net rugby en sy manne ooit rêrig sal kan verstaan.
- Volksblad