’n Pilletjie teen die dale vol donkerte
2011-09-19 23:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE afgelope week drink ek tee saam met ’n kennisvriendin.
Ek het haar ’n paar maande gelede via ’n e-posbrief leer ken toe sy in die donkerste van depressies was. Daardie tyd was Van Stadensbrug soos ’n vinger wat elke minuut van die dag na haar gewink het.
Intussen was sy by ’n sielkundige en het gepoog om te ontsnap uit die stiktes van haar siel.
Omdat ek nie ’n sielkundige is nie, en allermins gerat is om terneergedruktes lig toe te lei, is dit ’n spanning as my pad met diesulkes kruis.
Ek kan hulle nie wegstoot nie, want ek weet hoe dit is om vasgespyker te wees aan die hellekruis van depressie.
Het self letterlik by Van Stadensbrug gedraai en antwoordlose nagte deurgeworstel in die wasige psgiatriese wêreld van Hunters Craig.
Maar in ’n tyd toe ek gesig teen die grond was en soos die besetene van Gadara op my knieë gekruip het, het ek ’n wilsbesluit geneem om te ontsnap uit dié ondraaglike toestand. Waar ek die helderheid gekry het, weet ek nie.
Maar ek het besluit om dit te doen sonder dokters; bloot deur onverskrokke te delf in die geslote boeke van my emosionele wêreld. Ek sou daardie boeke met dapperheid oopsluit, en lees wat staan daar geskryf. Dan sou ek aksie neem om myself teen myself te beskerm.
Dit was moeilik. Maar met suiwer Genade het ek dit reggekry.
Ek en die kennisvriendin het al vantevore gesels oor ’n pot tee, maar dié keer is sy lighartig, soos ek haar nog nooit gesien het nie. Borrelende, fladderende skoenlapper.
Ek slaak verlig, want haar swaarkry het my skof deurgeskaaf en mý begin verteer. Sy lag toe ek vra of sy die lotto gewen het. “Jy kan maar so sê!”
Só vertel sy dat sy twee weke tevore een oggend wakker geskrik het, totaal oorkom deur ’n verlammende gemoedsdonkerte. Net die gedagte dat sy moet opstaan, was te veel, laat staan hare kam en tande borsel.
Met haar wang in die kussing gedruk, agter toegetrekte gordyne, het sy daardie oggend besluit sy gaan die finale streep onder haar lewensboek trek.
Tog, met ’n laaste inspanning het sy by ’n dokter en ander sielkundige uitgekom en is sy gediag-noseer as ’n klassieke ADD-geval. Attention deficit disorder. Aandaggebrek-sindroom.
Die dokter het Ritalin voorgeskryf, ’n wonderkuur. Sedertdien loop sy op die wolke. ’n Nuutgebore mens met vars moed en drif.
Ek skrik my ritteltits. Ritalin? Is die dokter kranksinnig? Hoe kán hy glo hierdie vrou in bittere nood se antwoord lê in Ritalin?
As kundige behoort hy te weet Ritalin is hoogsverslawend, en dit kan verreikende newe-effekte hê.
Die straatnaam is poor man’s cocaine. Die Amerikaanse Food and Drug Administration vereis dat vervaardigers die “Black Box”-etiket op die verpakking aanbring.
Dit behels: “. . . medical studies indicate the drug carries a significant risk of serious or even life-threatening adverse effects. The bold warning label . . . is the strongest alert the FDA can require of drug-makers”. Daar is selfs ’n limiet op die hoeveelheid wat per jaar vervaardig mag word.
Laat iedere man self oplees oor Ritalin. Rooi sinjale, alpad.
Grootmense kan self besluit of hulle Ritalin in hul lywe en breine gaan toelaat. Kinders kan nie. Hulle moet maar net sluk en klaar. Want die dokter sê só. Ma ook.
Die juffrou kan nie huishou as hy nie sy Ritalintjie gesluk het nie. Almal, tot Ouma, sê hy is so soet vandat hy sy pilletjies drink.
Niemand sê vir hom hy is nou ’n middelslaaf nie. Niemand sê vir hom as hy vergeet om sy pilletjie te drink, ly hy nie aan stoutheid nie, maar aan onttrekkingssimptome.
Of dat ’n ander straatnaam kiddie cocaine is nie. Of dat sy kreatiwiteit verkrag word, en sy persoonlikheid verwring word nie.
My kennisvriendin sê sy was nog nooit so gelukkig nie. Sy glo die Here het haar na die regte dokter gestuur. Halleluja, amen.
Dis omdat pilletjies ’n happy-go-lucky leefwyse geword het dat soveel dinge in die wêreld skeefdraai.
Volgende week gee ek die resep wat mý gered het. Dit kos niks. En dit vra geen “Black Box”-etiket nie. Tot dan, vashou.
- Volksblad