Wat is alles in dié pilboksie?
2010-09-06 23:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Om voor ’n vol gehoor in ’n siedende en onbedaarlike hoesbui uit te bars, is nie ’n grap nie. Terwyl ek die laaste stukkie verhoogtyd omworstel, kom lê die besluit oorhelder in my kop: Ek gaan hierdie klomp pille en insulien nie langer gebruik nie. Al sterf ek dan, is dit tot daarnatoe.
En dit het ek gedoen. Nie op my eentjie nie, maar saam met ’n ander spesialis wat van plumbing weet. Die eerste ding wat hy doen, is om die bloeddrukpille te vervang met ’n ander soort bloeddrukpil. Ek erg my stink, en spreek my ergernis uit.
Goddank is die gryse by en hy maak my stil en sê die dokter moet die voorskrif skryf. In die parkeerarea by die Green Acres-hospitaal tik die ou knol my oor die kneukels omdat ek so ongeskik was met die dokter. Hy sê bôgger die mediese fonds en magtiging, hy ry nou reguit Dischem toe en koop die nuwe pille kontant. En ek sál dit drink, anders gaan hy dit soos ’n enema in my opdruk, sê hy.
’n Skamele 48 uur later is die bloupers voete en beaarde onderbene ’n mooi velkleur. En die kuitkrampe is weg; ek kan loop so ver en vinnig as wat ek wil. My suikervlakke daal oornag. En die beste van alles, ek hou op met hoes. Asof die hoes met ’n mes afgesny is. Tot my skok lees ek op ’n gerespekteerde mediese webwerf: “A dry cough has been reported...characterised by its persistence and by its disappearance when treatment is withdrawn.” Is wat Peter R. Breggin in Toxic Psychiatry sê waaragtig ook die waarheid van die gewone medisynepraktyk? “A patient puts his hand out for help and psychiatry stuffs yet another pill into it.”
Ons gewone sterflinge plaas ons vertroue in dokters. Ons gló wat hulle sê en drink wat hulle voorskryf. Ek, altans. Maar tydens die hele dokter-eksodus wat my siek en sat en energieloos gelaat het, het ek tallemale gewonder waarom dokters knaend kerm omdat ek rook, en gedurigdeur nog en nog pille byvoeg, maar géén dokter spreek my aan omdat ek aansienlik oorgewig is nie.
Niemand vra indringend hoe lyk my eetpatrone, watter kos ek inneem en of ek genoegsame oefening en slaap kry nie.
Is dit nie die basiese kwessies waarvan enige dokter homself éérstens moet vergewis nie? Dan bly die siniese vraag in my luier: Wat sal in die ekonomie van die mediese wêreld gebeur as almal wat daagliks die spreekkamerstoele volsit, begin om op mediese aanbeveling gesond te eet, redelike oefening te kry en ’n skaflike gewig te handhaaf? Om leef-meganismes aan te leer wat stresvlakke verlaag en om te gaan slaap wanneer dit slaaptyd is.
Vermoedelik sal daar veel minder spreekkamerstoele volgesit word. En gevolglik sal...ja, laat elkeen maar vir homself uitwerk wat gevolglik sal gebeur.
Ek het nederig gaan om verskoning vra vir die nuwe dokter met wie ek so blerrie ongeskik was. En die een geloof wat die maagklep op mý versoek herstel het, en my huis toe gestuur het met nét ’n bottel Stopayne, ingeval. Nou is ons mediesefonds-voordele so te sê uitgeput vir die jaar.
Terselfdertyd is dit ’n uitdaging wat voorlê. Die krisis sal wees as ek nié die uitdaging aanvaar nie. Nou is die tyd om die pilleboksie boomskraap te kry.
Om my boek oor kruiegenesing nader te trek; die kwekerye in te vaar vir kruie, balsems en eliksers. Dalk help dit; dalk is dit ’n illusie dat dit regtig help.
Maar ek is oortuig my siel en liggaam sal daarby baat om met my vingers in die grond te dolwe en grasuitjies te pluk of tiemietee te maak, pleks daarvan om vir ’n halfuur pille te tel.
Dis beter om op die internet jogurtresepte te soek, as ’n tydmorsery met pacman speel.
Om komplekstuin toe te stap om dooie magrietjieknoppe uit te pluk eerder as om in die gryse se ore te teem oor bogjoppies wat weinig tot ons sieleheil toevoeg.
Dankie aan die deernisvolles by die Hoërskool President Steyn wat suigklontjies verhoog toe gestuur het. Dankie aan alle dokters, al ken ek hulle nie, wat voorskrifblaaie spaar en tyd maak vir lúister. Dankie vir die dokter wat my laat Clicks toe skarrel het vir ’n pilleboksie, want by hom het ek ’n onvergeetlike les geleer.
- Volksblad