U goedheid Gods is nooit volprese
2011-08-22 23:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
EEN van my grootmensdrome was nog altyd om klavierlesse te gee vir volwassenes.
Spesifiek vir dié wat as kinders opgehou het met klavierlesse, omdat die juffrou ’n draak was, of omdat dit hulle senuwees opgekeil het. Of omdat oefen en teorie en eksamens sleg was.
Noudat hulle grootmense is, berou hulle daardie dwase besluit.
Maar dis moeilik vir ’n grootmens om van voor af by middel C en Old McDonald had a farm te begin. Die ou jigvingers is ietwat onwillig, en gewoonlik is hulle half skaam oor hulle eie onbeholpenheid.
Elke keer as ek agter ’n kerkorrel inskuif, of by my Fritz Kuhla sit, is ek my ma en mevrou Hubert dankbaar hulle het my gedwing om aan te hou met klavierlesse. En dat ek in my grootmensjare die wonderbaarlike insig gehad het om nooit my speelvermoë te laat verroes nie.
Darem een van die min dinge wat ek rég gedoen het.
Vandat ek in 1964 vir my sub A-jaar Uniondale se dorpskool toe is, had ek twee oorheersende begeertes. Om te kan klavier speel
En om ’n bril te hê.
Maar my ma het gesê ek mag eers musiek neem as ek in standerd een kom en góéd kan lees. Een van my ander begeertes was om nooit skool toe te gaan nie, want ek wou nie weggaan van my pa en ma op die plaas nie.
Ek kon myself leer lees, maklik.
As ek weggaan dorp toe, wie sal vir my Bybelhoenders skoolhou en vir my Grietjie-hansbok luserntoppies pluk? Wie sal my kleiner Marietjie-sussie oppas en keer dat ’n geelslang haar pik?
Maar ’n kind word, volgens Sigmund Freud, gestroop van sy almagtigheidswaan.
Algaande leer hy almal kom nie aangehardloop met die tietiebottel, speelding of stootkar telkens as hy skree en kweel en skoppend op die grond neerval nie.
Freud sê die ontneming van sy almagtigheidswaan is een van die mens se grootste ontgogelinge.
Só is ek sub A toe en loseer ek daardie jaar by Oom en Tannie Bekker op die dorp.
Wanneer my sussie die daaropkomende jaar skool toe kom, sou ons saam koshuis toe gaan.
In Tannie Bekker-hulle se sitkamer was ’n blinkswart klavier. Dit was altyd gesluit en Tannie Bekker wou dit nie oopsluit nie.
Middae wanneer sy skuinslê, het ek in die donker sitkamer met die dik gordyne ingesluip en op die klavierstoel gaan sit.
Dan speel ek op die deksel.
Iewers in my het ek presies geweet watter note om te druk, met al twee hande gelyk. As Tannie Bekker net die deksel oopsluit, sou ek haar wys ek kán.
Só het ek al my skool- en kerkliedjies vlot op die swart deksel gespeel. My beste lied was die ou gesang 12 – “U goedheid Gods hier nooit volprese” – want dit was my huillied omdat my ma-hulle my dorpskool toe gestuur het.
As ek hoor Tannie Bekker trek haar kamergordyne oop, skuif ek die klavierstoel suutjies in en glip uit.
In die agterjaart was ’n mechanic-put waarin Oom Bekker regop kon staan wanneer hy aan sy blou Volksie se onderstel werk. Dan klim ek die puttrappies af en gaan lê lankuit in die put en verbeel my dis my graf.
Ek speel ek is dood en my ma-hulle treur omdat hulle my dorpskool toe gestuur het. As Tannie Bekker die klokkie lui vir soppertyd, rys ek op uit die graf.
In sub B het ek sonder permissie begin as musiekleerling by mevrou Hubert.
Om vredeswil het my ma my laat begaan, want ek het baie dae van die Kersvakansie aan die einde van sub A omgesit om ’n boek van my hoërskoolbroer te lees.
Spykers met Koppe. Om aan my ma te bewys ek kán, al het ek bloedmin begryp.
Later was musieklesse haatlik, maar my ma en Mevrou Hubert het gestáán. Elf jaar ná matriek het ek ’n onderwyslisensiaat in klavier deur Unisa behaal.
Maar deesdae droom ek nie meer van klavierlesse gee vir volwassenes nie.
North Riding se trustees sal my kielhaal oor die stoornis, dis heeltemal te verstane.
Op tye as die lewe my wurg en ek in die put lê en na doodgaan voel, maak ek my oë toe en sit weer op die klavierstoel in Tannie Bekker se skemer sitkamer, soos in my kindjietyd.
Dan huil ek droë-oog. En tel my seëninge, terwyl ek op die swart deksel speel: U goedheid Heer kan ons nie peil nie...
- Volksblad