Tyd dat knypbril opgesit moet word
2011-09-26 22:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
VANDEESWEEK wou ek skryf oor my resep vir oorlewing. Toe word ek oorval met reaksies op verlede week se rubriek.
Deur (sommige) medici is ek gekielhaal met beskuldigings van onverantwoordelike ondeurdagtheid. Andersyds is ek oorval deur ouers wat sê: dánkie.
Dalk moes ek my skaars gehou het by ADHD en Ritalin. Tog is dit buite my aard om ’n blinde oog te draai vir omstredenhede waar debat blyk nodig te wees. Beslis waar dit kinders raak.
Ek glo in die gesegde: It takes a whole village to raise a child. Niemand het die reg om my mond toe te klap nie. Bewys my verkeerd, dan sal ek askies vra en swyg. In die proses mag ek genoeg kennis versamel om ’n skokboek te skryf.
So graag as wat ek op die reaksies wil antwoord, is dit vir ’n “stommerik” onmoontlik om dit in enkele dae te sif én sinvol te antwoord. Gee my ’n week, asseblief. Intussen, laat ek maar wéér in die tjorts trap, soos ’n slimkop in ’n koerant-SMS skryf, met ’n skrikstorie.
Dis nie onderworpe aan peer-overviewed geskrifte en navorsingsbronne nie. Dis net iets waarvan ek ooggetuie was. En dis nié die enigste een nie. Tans is ’n soortgelyke tragedie besig om vlak onder my oë af te speel in ons meenthuiskompleks. Die Here moet my help dat ek my plek ken, en kalm bly.
In ons plattelandjare had ek ’n vriendin met ’n woelige seuntjie. Sê maar Hentie. Hy het dikwels by ons kinders kom speel. Een van sy irriterende gewoontes was om aanhoudend vrae te vra. Nimmer stil te sit; karring aan alles. Een van die village se energieke kinders.
Omdat ek my eie geloof het oor “hiperaktiewe” kinders (onnooslike ekke, want net medici weet iets van hiperaktiwiteit), het ek gesorg dat hy besig bly daar by ons huis.
Een van sy werke was om twee winkelsakke vol knope wat ek by die kerkbasaar gekoop het, in kleure te sorteer en in margarienbakkies te sit.
Net hý mag dooie magrietjieknoppe afknip en stof op die potplante met ’n sproeibottel afspuit. Vir elke slakdop wat hy bring, kry hy 10c wat hy in ’n vissmeerbottel spaar.
Ons het gereeld nulletjies-en-kruisies speel, maar as hy kwaad raak of huil, dan speel ek nie verder nie. Só was vele takies Hentie s’n.
As beloning kon hy twee keer per week kom vir blokfluitlesse. Tot vandag sien ek hom by die voordeur met sy blokfluit in sy hand, sy glinsterende ogies as hy roep: Hier’s ek! Hier’s ek!
Toe tref die tragedie. Op aanbeveling van die skool en ’n skoolsielkundige word hy as ADHD gediagnoseer en op Ritalin gesit.
Vergeet hy om sy pil te sluk, is die juffrou in ’n toestand en kan nie cope nie. Binne weke was hy ’n zombie. Wou nie knope sorteer of magrietjies uitpluk nie. By blokfluitlesse het hy lusteloos geblaas; die fluit laat val.
Wat my ontstem het, was dat hy ’n sinusprobleem gehad het en die begeerte verloor het om sy neus te blaas. Dit loop oor sy bolip en al wat hy doen, is om dit af te lek as dit in sy mond kom. Hy’t nooit meer gelag nie. Net gestaar. Tipies van oordosering.
Vir sy ma was hy ’n vreemdeling. Kopseer, maagpyn, naar. Gryp soms sy bors vas en sê sy hart “hardloop weg”. Haar pleidooie val op dowe ore; alles word afgemaak as manipulasie of skoolsiekte.
Niémand het hom of sy ouers gelei om die genie in hom te ontsluit nie. Vyf jaar later het sy ma ’n bottel miergif onder sy bed gekry en halt geroep.
Daar is báie suksesstories oor ADHD en Ritalin. Maar ook gruverhale. Soos een kundige arts sê: “Gruverhale word veroorsaak deur oorwerkte, onderopgeleide dokters wat deur gebrek aan tyd /kennis/belangstelling nie die kinders reg behandel nie; en deur ’n sisteem wat die kinders faal.”
Nou wonder ek of hierdie arts ook in die tjorts trap met sy opinie. Of het die tyd aangebreek vir ouers en village-mense om dié saak met ’n knypbril te bekyk?
Begin deur te lees by http://www.ritalindeath.com/. Aan die einde is ’n ekstensiewe verwysingslys.
Maar moet asseblief nie alles op die internet voor die voet glo nie. Grawe vir kennis op hoogs-mediese webwerwe. En as julle iets te sê of te vra het, moenie julle monde laat toeklap nie.
- Volksblad