Toe kerkhoedens nog mode was
2011-08-29 19:21
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
HIERDIE vrou is in diepe moeilikheid. Darem nie by die koerant nie, maar by die ou gryse.
En glo my, as daardie bedaarde man onbedaard raak, kan hy ’n erge stuk draadwerk wees. Klink verniet of hy die besadigdheid van die engel Gabriël besit.
Die moeilikheid het per ongeluk gebeur. Hý sê dis asprisheid. Vroeg in Augustus is ons op pad Kaap toe na afloop van ’n skryfskool op Porterville.
Halfpad Kaap toe moet ek op ’n ysige reënaand konsert hou by die Kos- en Kunswinkel op Riebeek Kasteel, in die omtes van Malmesbury.
Ek sien nogal op daarteen, want op dié kleine dorpie sal daar op so ’n bibberaand seker net tien mense opdaag. Ewentil, dis maar hoe dit is; die lewe bestaan nie net uit maklike take nie. Darem is die gryse daar om die boeketafel te beman en ’n stuttende elmboog na my uit te hou. Dankie tog.
Met ons aankoms mik ek vir die moewiese kaggelvuur wat in die middel van die vertrek brand. Maar word ek verwittig dat ek vir my ’n hoed moet gaan uitsoek in die dameskleedkamer. Ek maak soos ek aangesê is.
Elke muur van die kleedkamer is behang met glansryke kerkhoedens uit die jare her. Daar in die kleedkamer, op dié triestige aand, verlang ek na my ma.
Ek herroep haar met haar kerkhoed en bypassende handskoene. Die wit gesangeboekie...
Maar ek onderdruk die dreigende weemoed en kies ’n statige bruin vilthoed met ’n stewige bol en ’n rand waarop ’n tros blomme en chiffonstrikke spryk.
Ruik muwwerig, maar immers sal hy stewig sit tydens die konserthouery.
Elke vrou wat opdaag, skiet badkamer toe en kom luidrugtig en skaterend uit.
Met ’n tarentaalveer-kadotjie. Wapperende slaprand. Swart pelshoed met ’n stywe doods-netjie oor die gesig.
Of ’n pikante ruikerdingetjie wat met ’n hoedespeld knap agter die kuif vasgesteek word.
Ons breek ons. En die kameras kliek aaneen. Waar al die mense uitpeul, wis ek nie, maar dis tjok-en-blok. Die kaggel knetter en my weemoed is weg. Dit word een van die uitbundigste aande van my lewe.
Halfpad deur die konsert, heel onbepland, vertel ek van die nag doer in ons Bedford-jare toe ek in blind-onmagtige woede ’n sigaret op die engel Gabriël se rug doodgedruk het. Met mening, sodat die kamer na skroeivleis ruik. Sal hom bleddiewil leer wat kom daarvan as hy my ignoreer wanneer ek in ’n vegbui is.
Toe moet ek die konsert stop, sodat almal eers klaar lag en drienks kry. Kwalik het die konsert weer begin, of ’n vrou met ’n poeierblou pilbokshoedjie oortrek met donsagtige vere spring op en sê die gryse moet by die kaggel kom staan en hom uittrek, want hulle het besluit hulle wil sy wond sien. En die engel Gabriël sit net en grinnik.
Hóé dit gebeur het, kan ek nie sê nie, maar tydens die jolige agterna-paartie beland my beblomde bruin kerkhoed met die chiffonstrikke op die gryse se kop. Seker was die hoed knus in die Bolandkoue, want hy sit rustig en eet met die hoed op. Salig onbewus. En iemand kliek hom. Vyf dae later beland die buldersnaakse foto op my inboks. Ek stuur dit Engeland toe, sodat die kinders kan sien hulle vader is nog jonkgeestig.
En die klein merrie van ’n Nasti publiseer dit op Facebook. Nou is ék in diepwaters, want in my tegnologiese onnooslikheid weet ek nie hoe om dit af te kry nie.
Sy steek botweg vas by: Die mense moet sien deur watter wilde waters Ma alewig vir arme Pa sleep. Die hoedman praat glads van onterf. Vir my én vir Nasti. Hy sweer dis ’n plot wat ons teen hom smee. Só kom dit toe dat die hoedman die volgende Sondag voorgestel word as ouderling in ons Patmos-gemeente.
Terwyl hy voor die kansel staan, herroep ek die tyd van manelpakke en witdas-ouderlinge. Vrouens met kerkhoedens en borsspelde. Iedere lidmaat sing uit sy eie gesangeboekie. Toe predikante togas gedra het, en voornemende huwelikspaartjies laat gebooie loop het.
Ja, weggegane tye.
Ek bekyk my grysgeworde man, en in my gedagtes loop ek terug Riebeek Kasteel toe en sit weer die bruin kerkhoed op sy kop.
Eendag, wanneer ek op die ouetehuisstoep sit, sal dit ’n onvervangbare foto in my memorieboek wees.
- Volksblad