Ouers en kinders se dwaalpaaie
2011-09-12 17:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
IN Volksblad (7/09) het prof. Jonathan Jansen in ’n Brandpunt-rubriek “Lesse van die vaders” geskryf dat Julius Malema bloot sy politieke vaders naboots.
Hy vra: Hoe kritiseer jy ’n seun wat die voorbeeld van die ouer tot die letter volg? Hy eindig: Julius Malema is die produk van sy opvoeding – nie net in die volslae afwesigheid van ’n biologiese pa nie, maar in die aanwesigheid van ’n politieke pa wat ’n negatiewe rolmodel was in die grootwordjare van ’n jong man.
Dit sou byna te maklik, selfs onregverdig, wees om die kind te straf sonder om ook diegene te straf wat die jongman na politieke volwassenheid gelei het en nou voorgee om deur die resultate verras te wees.
Wat ’n uitmuntende getuigskrif van die skrywer se integriteit en ’n onberispelike opvoeding.
Onbevrees en onoorwinlik kyk hy oor álle grense heen na ’n rou waarheid. Soos die digter Jan. F.E. Cilliers sê: Ek hou van ’n man wat sy man kan staan /’n oog wat nie wyk, wat ’n bars kan kyk /en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!
Hier in North Riding is ’n lelike tendens aan die kop uitsteek. Vandalisme. Yslike baksteenbrokke word na vensters gegooi. Jong kareebome word afgebreek. Die posbusse is met geweld ingeskop. Ons het ’n vermoede wie dit is. Die trustees kan dit nie tersyde laat en skouers optrek nie.
Want om ’n versekeringseis in te dien, word ’n saaknommer van die polisie vereis. Kort voor lank gaan daardie vandale hulle te pletter loop teen die gereg.
En dán gaan die hel losbars.
Ek hoor al by voorbaat daardie ouers verwoed uitvaar: Bedoel jy mý kind is betrokke daarby? Hoe durf jy mý kind impliseer? Ek sal die trustees kaal uittrek in die hof vir laster! Julle sal nog in julle hande huil, hoor wat ék vandag vir julle sê. Hou jul bekke van mý kind af!
Ja, ja, ja. Dis doodsekerlik hoe dit sal wees. Die dae is skynbaar verby toe ’n mens aan ’n ouer se deur kon klop en in alle ordentlikheid sake uitpraat. Toe ouers die skade betaal het, en die kinders gestraf kon word en iets leer uit die bladsye van die lewe.
Dis diep kommerwekkend dat ouers só reageer, want al wat hulle bereik, is om die kriminele neigings in hulle kinders te sterk. Maak en breek en mors soos jy wil, my seun, mamma sal mamma se prokureur op die trustees sit.
Dis geensins ongekend dat kinders allerhande lelikhede aanvang nie. Inteendeel, dis nogal heel normaal.
Sedert alle tye, en tot in lengte van dae, sal kinders hul grense toets. Hoe vroeër hulle ontdek waar die grense geleë is en wat die onvermydelike gevolge sal wees as hulle oortrap, hoe beter is die kans dat hulle gebalanseerde grootmense sal word wat vredevol en opbouend tot die samelewing sal bydra.
Ouers wat hulle kinders op ’n verkeerde basis ondersteun en beskerm, bykans stu om die aanvaarde orde van die samelewing omver te werp, is patetiese ouers.
Hulle is besig met kinderverwaarlosing.
So seker soos die son elke dag opkom en ondergaan, so seker sal daardie kinders voortbou op die fondament wat hul ouers vir hulle gelê het.
Anderdag staan ek in ’n ry by Spar. ’n Seuntjie wat skaars van die doeke af is, sit in die trollie en skreeu totdat hy rooigesig vir ’n KitKat is.
Toe sy ma nie die KitKat wil koop nie, klap hy haar in die gesig. Sy, bejammerenswaardige pateet, vat die KitKat en betaal dit. Hy skeur die papier af, laat val dit op die vloer. Sy stap doodluiters aan asof daar nie pas ’n tragedie voor haar oë afgespeel het nie.
As sy haar kind se belange op die hart dra, sou sy hom die grense daar en dan gewys het. Met ’n wil wat soos ’n klipsteen staan.
As kinders in die hof beland omdat hulle op onwettige wyse handuit ruk, behoort die ouers sáám in die beskuldigdebank te staan. Letterlik.
Die hof moet bestek neem van die ouers se aandeel in ’n kind se dwaalpaaie. Want ’n minderjarige kind loop alleenlik op dwaalpaaie as sy ouers hom toelaat om daarop te loop.
Die wet behoort voorsiening te maak dat ouers gevonnis kan word vir nalatige opvoeding.
Jonathan Jansen is reg: Hoe kritiseer jy ’n seun wat die voorbeeld van die ouers tot die letter navolg?
- Volksblad