OP elke werf waar ek in my 54 jaar gewoon het,
was ’n groentetuin.
Op Grootfontein in die Kammanassie was ’n gróót tuin met lappe vol
van alles. As my ma smiddae skuinslê, oes ek ertjiepeule en aarbeie en
kersietamaties en grenadellas om kamma te verkoop in ons appelkooskissie-winkel.
Toe ons op Uniondale in die munisipale huis intrek, torring ek aan
die gryse oor ’n groentetuin. Spit in kleigrond is nie sy sterkte nie.
Maar van ’n beddinkie tamaties het ons appelbokse vol gepluk.
Op Bedford was die rykste oes van die één aartappelmoer wat die
gryse in ’n buiteband geplant het. Sodra die plant hoog raak, sit hy nog ’n
buiteband op en gooi ekstra grond in.
Later was daar vier binnebande rondom die aartappelstoel. Twee en
’n halwe sakkies van ’n enkele moer geoes.
Toe trek ons Baai toe en die meenthuisjaart is te klein vir ’n
groentetuin. Plant net kruiebakke of ’n blaarslaaikop tussen die blomme.
Vir 12 jaar smag ek na ’n groentetuin.
Nie om vragte te oes nie, net vir die weelde om ’n aarbei of ’n
bossie grasuie te pluk.
Met die koms van die droogte in 2009 kry ek ’n tenniselmboog van
water dra.
Op ’n snikwarm dag vroeg in 2011, haak my voet vas terwyl ek emmers
water aandra in die agtertuin. Daar lê ek gesig tussen die petieterige petunias.
Net daar besluit ek: Die agtertuin sál leeggemaak en omgespit word,
en braaklê totdat die droogte breek. Dán sal dit ’n groentetuin word, soos die
een in ons Rudolphkind se Engelandjaart; beddings netjies geskei met skaalplanke
wat regop ingesit word.
Só breek die droogte. Ek haak uit en koop genoeg saad vir veertig
maal die grond tot my beskikking. Ek spit en dolwe.
Om my gekerm te stop, koop die gryse skaalplanke; saag dit in
lengtes volgens bevel.
Lentetyd saai ek die saad biddend in die skaalplank-beddinkies. Pak
loopklippe vir my voete.
Hierdie Krismistyd is ’n blye tyd.
Soggens drink ek en die gryse ons koffie in die groentetuin. Dalk
pluk ons drie boontjies, trek twee radyse uit, breek ’n ertjiepeul oop en deel
die soet korrels. ’n Lappie groente het my bestaan kom opvrolik.
Dis asof ek en die gryse soggens meer toegeneë is teenoor mekaar.
Dalk was dit die Groot Plan dat ek daardie droogtedag tussen die
petunias moes neerslaan.