Katterige taal en groot verlange
2011-08-15 21:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
LYK darem of my kinderen buite die gevaarsone is waar die menigtes so baklei daar in Engeland. Maar vir ingeval hulle dalk midde-in ’n klipgooiery en vuisslanery beland, het ek die gerusstelling dat daar g’n Afrika-kind is wat nié kan klipgooi en vuisslaan nie.
Nou wil ek vertel van die amperse vuisslanery so twee jaar terug in my Rudolph-seun se huis. Mos getroud met ’n vrou van Letland.
Sedertdien het haar Engels dramaties verbeter, maar ten tyde van die destydse bakleiery, was haar Engels nie waffers nie. Veral nie as dit kom by idiomatiese uitdrukkings nie. Selfs mense van dieselfde taal kan mekaar soms sleg verkeerd verstaan.
Soos die keer toe ek in ’n hoogs beneukte bui vir die gryse gesnou het: “Dit help boggerol ek vra jou om party aande die kosmakery op jóú skouers te neem! Want elke keer kom daar dadels van!”
Wragtig, die volgende dag kom hy van die werk af met twéé pakkies dadels en vra wat wil ek met die dadels gedoen hê. Ewentwil.
Ek en die ou gryse het nog nie kleinkinders nie; net twee oranje katte-kleinkinders. Winston en Tommy.
Ek vra vir my seunskind vir wat loop gee hy die katte sulke Ingels name. Kon dit nie maar Hermaans en Stefaans wees nie?
Hoeka is dit sulke waaghalsige boerekatte.
Kom glads eendag by die huis aan en lê ’n afgekoude haaspoot voor Rudolph se voete neer as bewys van hul jagvermoëns.
Nee, sê hy, dis Irina wat die katte se name gekies het en hy laat hom dit eerder welgeval, want daar was ’n daelange hare-en-naels-geveg juis oor die katte.
Omdat hulle weens laatnag-werkure by die pub nie tyd het vir kinders grootmaak nie, en weier om hul kinders deur ’n oppasser te laat grootmaak, is hulle kinderloos. En elke vrou se oerinstink is seker maar om ’n kind te hê.
As tweede opsie het Irina maande lank gepleit vir twee cat babies. Maar Rudolph wil nie kopgee nie, want hulle kom snags watter tyd by die huis van die pub af; wie moet die ergernis en verantwoordelikheid dra om klein katjies sandbakmaniere te leer; hulle aandkos te gee; die sandbak vervars?
Kort-kort kerm en karring Irina om sy ore oor cat babies. Maar hy verseg.
Op ’n dag staan hy en die hoofsjef in die pub-kombuis en bespreek die poedings op die komende winterspyskaart.
Onder andere pannekoek met kaneel en room. Een van die tydrowende omwentelinge met die nuwe spyskaart is dat die pannekoek nie klaargebak aangekoop gaan word nie. Die kombuismense moet elke individuele bestelling vars bak. Nou moet ek bysê, die Engelse koop halfgaar pannekoeke in pakkies by kettingwinkels, want hulle glo pannekoekbak is ’n fyn kuns wat deur weinig bemeester word.
Eetplekke wat tuisgebakte pannekoeke aanbied, is gesog.
Om nie voortydige chaos te skep met al die ekstra werk nie, sê Rudolph vir die hoofsjef: “Don’t let the cat out of the bag as yet.”
Waar Irina ’n opgekookte aartappel staan en versier met suurroom en grasuie, hoor sy net dié enkele frase.
Onverwyld begin sy soek waar Rudolph die begeerde katte in ’n toegebinde sak weggesteek het.
Beskuldig sommer die hoofsjef dat hý die skurk is wat die katte weggesteek het. So hittete of sy dop daardie dag op die dinner-uur die pub op sy kop om soos sy soek.
Toe sy in die instap-yskas begin krap, sê die hoofsjef meewarig: “That’s why they say curiosity killed the cat.”
Tóé bars die hel los. Want nou is die cat babies doodgemaak.
Dit kos Rudolph ’n woordeboek koop, sodat sy met haar dikgehuilde oë kan lees.
Op sy eerste afdag is hy cat sanctuary toe om vir die vrou twee oranje cat babies te koop.
’n Mens kan begryp waarom hy haar nie teengestaan het met die Ingelse naamgewery nie.
Toe ons laasjaar Oktober by hulle kuier, het Winston en Tommy op die eerste nag hulle intrek op Ouma en Oupa se bed geneem.
Soggens bo-oor ons kerjakker en in ons gesigte kom spin as hulle dink dis kostyd.
Nou wonder ek: as ek so verlang na twee katte, hoe reikhalsend moet grootouers van regte kleinkinders nie smag na die tasbare nabyheid van die vlees van hulle vlees nie.