Geluksvoël laat onthoue terugrol
2011-10-24 22:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
IN nommer 22 knetter die vreugdevure. Donderdag wat verby is, het die wegneemvoël in ’n geluksvoël verander, en ons Nasti-kind uit Engeland op die Baaise lughawe kom neersit.
Om vir ’n maand te kom skuil in die één vesting waar niemand haar sal verraai of ’n haarbreedte se onreg sal aandoen nie.
Hoe verder die jare aanstap, hoe kleiner krimp die ouderdomsgaping tussen ons, spreekwoordelik. Om te dink toe ek 31 was, soos sy nou is, was sy al nege jaar oud en in st.1. Dertien jaar gelede toe ons Baai toe getrek het, was die gryse ’n hupse 46.
Oor dertien jaar sal hy 72 wees. Ek kan nie tot daar dink nie.
Ewe min kan ek dertien jaar vorentoe kyk en ’n toekomsbeeld vorm van my eens kleine dogtertjie met die wipstêre en die gestrikte fontein-ponie op haar kop.
Donderdagaand het sy vlugvoos onder die sawwe kombers op haar moeder se bed aan die slaap raak, met ons Teunsie-kat teen haar heup.
Asof sy nooit weg was nie.
Ek het die kamer donker gemaak en ’n kers op die bedkassie aangesteek. En die Here gedank dat die wegneemvoël ons kind teruggebring het. Al is dit kortstondig.
In die skemer kamer het vele taferele van oor die jare heen deur my kop gespoel. Mooi onthoue. Minder mooi onthoue. Blye onthoue. Hartverskeurende onthoue.
So sit ek en sy in die middel 80’s in dokter McNicol se spreekkamer op Bedford ons beurt en afwag. Sy is verveeld, want sy het elke tert en pastei in Rooi Rose en Sarie van die glansbladsye af geëet; elke tydskrifdiertjie is gedoop. Toe kom ’n bejaarde tannie by die spreekkamer in, dubbeld die normale grootte.
Die tannie sak steunend neer en sit die rusbank kant en wal. Nasti staar onbeskaamd; driejariges weet nie dis ongemanierd nie.
Sy klouter op my skoot, fluister-vra of dit ’n neroster is. Altyd die letters omgedraai.
Sieterpielie. Kannepoep. Snoei vir sneeu; loei vir leeu.
“Nee,” fluister ek, “renosters gaan veearts toe.”
Toe sy oortuig is dis ’n mens wat op die rusbank gesprei sit, vra sy luidkeels: “Wanneer gaan die neroster-tannie se neroster-babatjie kom?”
Kort ná ons op Bedford aangekom het, sy was so drie, nooi die skoolhoof se vrou ons vir tee. Ek vra of my dogtertjie kan saamkom. Dis reg, sê sy.
Ondertussen onderrig ek Nasti oor etiket. Moet aan niks vat nie. Moenie nog koek vra nie. Moenie tussenin praat nie. Sit knietjies bymekaar. Eet toemond. Moenie jou tee slurp nie. Gebruik jou servet. Sê asseblief en dankie.
Teedrinkdag breek aan. Nasti gedra haar onberispelik, maar sy sit koponderstebo by die tafel, die skyf koek op die Noritaki-bordjie onaangeraak. “Hou jy nie van koek nie?” vra die vrou. “Eet gou jou koek op, dan skink tannie vir jou tee...”
Iets was teenstrydig met die etiketlesse wat ek haar ingedril het. “Ek wag net vir my koekvrukkie en my verset...”
Die grênde vrou bring ’n koekvurkie en servet. Klaar geëet, drink Nasti haar tee sonder slurp. In ons huis drink ons nooit ’n koppie dolleeg nie; los altyd ’n skeutjie oor. Maar dis nie hoe die grênde vrou in haar huis maak nie. “Drink jou laaste teetjies, dan vat tannie jou koppie,” en die vrou staan en wag.
Nasti kantel die koppie om seker te maak dis net droesempies. “Ek drink nie daai nie,” sê sy in ‘n klimmende stemmetjie, “want die onderstes is vol hare en naels.”
Vandag nog praat ons van koekvrukkies en versette. En ons drink nie droesempies vol hare en naels nie.
Al lê dit die verskiet in, sien ek steeds haar verontwaardigde gesiggie bokant die tafel uitsteek.
’n Ma vergeet sulke tablo’tjies nóóit.
Donderdagaand het ek lank na haar staan en kyk; haar hare agtertoe gestryk en gesluk aan die traansmaak.
My kind, my kind . . . Hoe wens Ma nie Ma kon die jare terugdraai om ’n regverdiger en meer toegewyde ma vir jou te wees nie. Tog, Ma weet nie of ons mekaar werklik sal wil verander nie. Ons is wie ons is.
Só het ons mekaar lief. Maar dankie, kind van Ma se hart, dat jy altyd weer huis toe kom.
En dankie aan alle kinders wat respek toon aan die goedbedoelende hande wat hulle vir baie jare gevoed en geklee het.
- Volksblad