Eendag wag bejaardheid op almal...
2011-11-07 22:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE Prediker praat van die tyd as die malers ophou maal en die kapperkruid nutteloos word. Dit is bepaald die ouderdom waarvan hy daar praat. Weliswaar, niemand wíl oud word nie en daarom bly ons soek na vrolikhede om ons jonk te hou. Een van my gunsteling-soekplekke is by mense veel jonger as ek. Dis aansteeklik om te sien hoe uitdagend hulle lewe.
Maar as mens jou met die jongeres wil ophou, moet jy weet jy gaan voetsleep. In die afgelope jaar het ek my dikwels op die verhoog begewe met die jonkheer Pieter Rademeyer aan my sy.
Ek as storieverteller; hy as sanger. Tot by Innibos-fees op Nelspruit gedraai. Een oggend praat hy my om dat ons van die feesterrein moet lóóp na ons blyplek toe. Hy beduie dis net dwars in een straat, op met die volgende.
Vir my lyk dit opdraand, en die Noord Transvaalson skroei fel. Met my appellyf stoom ek die opdraand uit. Halfpad sê hy ewe terloops ek moet sê as ek in ’n boomskadu wil rus. Daardie oggend het ek verstaan wat die Prediker in hoofstuk 12 bedoel met: “Dis die tyd wanneer hy bang is vir ’n hoogte. . . en die sprinkaan homself moeisaam voortsleep.”
Onlangs het ek en die einste jonkheer Rademeyer verneem ons produksie is gekeur vir die 2012 Stellenbosch Woordfees. Stellenbosch kan ’n bakoond wees in Maart. Oral moet jy te voet loop. Nou het ek met die jonkheer kontrak gemaak: In ruil vir die berg administrasie wat ék moes doen om by die Woordfees te kan beland, gaan hy iewers ’n gróót stootkar huur of koop of steel of leen. En my in Stellenbosch se hitte rondstoot oral waar ek wil wees. As ek sê stop in ’n skadukol, moet hy stop. As ek koue bier soek, moet hy koue bier kry.
In 1998 is ek en Nasti, toe in matriek, KKNK toe. My senuwees was voos, want sy bestuur met ’n leerlinglisensie alpad Oudtshoorn toe.
Min ervaring. Onverskrokke.
Dan is sy oor die witstreep, dan slaan sy die gruis, dan soek sy ’n tissue en kyk weg van die pad. As sy ’n grootlorrie verbygaan, swaai sy skerp links, reg voor die lorrie in. Knap voor De Rust nael ’n volstruis oor die pad. Sy briek nie. As die volstruis twee sekondes stadiger was, het sy sy bene onder hom uitgery. Net daar laat ek haar stilhou en vat die stuur oor.
Dis bloedwarm by die KKNK. Synde ’n diabeet is ek altyd dors. Ek sien die feesgangers loop met begeerlike botteltjies wyn, bedruppel aan die buitekant. “Nasti,” sê ek, “Ma wil so ’n botteltjie wyn hê, Ma vergaan van dors.”
Sy lag onnutsig. “Ma, dis nie wyn nie, dis bier. Mens noem dit Savanna.”
Solank die jonkheer Rademeyer onthou ek soek kort-kort ’n botteltjie wyn. En die prêm. Maar, soos die Ingelsman sê: If wishes were horses beggars would ride. Eendag wag bejaardheid vir almal. Laat ons sports maak, voordat die tyd kom wanneer die malers ophou maal en die sprinkaan homself moeisaam voortsleep.
NEEM KENNIS: Volksblad se kommentaarfunksie word vir 'n onbepaalde tyd gesluit. Lewer kommentaar deur 'n brief te e-pos aan web@volksblad.com. U kan ook gebruik maak van ons profiele op die sosiale netwerke Facebook en Twitter.
- Volksblad