Die lewe gans te kort vir slegte koffie
2011-12-05 22:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Een-en-twintig jaar gelede het die gryse sy voggie-kwota vir sy aardse bestaan uitgeput.
Daardie man kon met brandewyn en Coke kuier tot die vlooie van sy kop af vlug.
Maar hy het summier die voggies gelos en nooit weer sy lippe aan iets sterk gesit nie. Nie eens nagmaalwyn of brandewynpoeding nie.
Ek staan op aandag vir sy wilskrag.
Sedertdien is hy ’n koffieslaaf en ek kla nooit as hy twintig koppies koffie per dag drink nie.
In ons huis is ’n verskeidenheid koffie.
Gewone korreltjiekoffie. Sakkiekoffie, moerkoffie, gegeurdes wat die kindergoed uit Engeland aandra.
Dan ’n paar bottels duur koffie.
Want vir ’n man wat die heengaan van sy kwota met ’n regop rug uitleef, is die lewe gans te kort vir slegte koffie.
Dan is daar Frisco, mý koffie.
Niemand sit hul lippe aan my Frisco nie. Dis nie verbode nie; hulle is net neusoptrekkerig,
My liefde vir Frisco kom uit my kindertyd.
Vrydae as my pa ons by die koshuis kom haal om vir die naweek plaas toe te gaan, is daar ’n boks kruideniersgoed agter-in die Chev. My ma bel haar bestelling deur na oom Wessels Smuts se Algemene Handelaar, en my pa tel dit op.
As plaaskind was sommige winkelgoed soos paleiskos. Vissmeer, jellie, grondbonebotter, polonie, piesangs, sardiens.
En Frisco.
Omdat kitskoffie raar was en ek gegril het vir die koffiesak in die enemmelketel, was Frisco koningskoffie. As jy die water skink, vorm dit ’n skuimlaag bo-op. Dan trek ek my tolletjieskoene aan en gaan sit met my Frisco in een van my ma se Sondagkoppies onder die jakaranda. Verbeel my ek is ’n mevrou wat in die Hoekkafee op George koffie drink nadat ek ’n mixed grill geëet het.
In my kamma-handsak is my kamma-man se tjekboek.
Van die Hoekkafee af ry ek OK Bazaars toe en koop stapels blikkieskos en kardoessakke vol Pick ’n Mix-lekkers. En baie blikke Frisco.
Tot vandag is Frisco my paleiskoffie.
Wanneer die lewe hardhandig aan my rem, wens ek ek kon weer my tolletjieskoene aantrek en rug teen die jakaranda sit en my skuim-Frisco uit ma se Sondagkoppie drink.
En kamma-kamma speel ek, ek en die gryse woon in ’n igloe in die verre Groenland.
- Volksblad