Die kerk is niemand se lappop nie
2012-01-30 21:44
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIS altyd tragies as die onderskeie kerke so onder mekaar baklei. Die samelewing is reeds so verward en soekend; ’n bakleiery onder kerkleiers dra geen aks by om die samelewing ’n rustiger en liefdevoller plek te maak nie. Dit veroorsaak eerder dat mense wegloop van die kerk af.
Al is derduisende mense nie meer kerkgangers nie, bly die kerk ’n moeder in ons midde. Maar ek is nie oortuig dat ons, die kinders van die kerk, ons bes probeer om goeie kinders vir die ou moeder te wees nie.
Dit laat my dink aan ’n kennis wat bedags haar kleindogter Hannah oppas.
Een oggend blaai sy en Hannah deur ’n tydskrif en ontdek ’n naaldwerkpatroon vir ’n lappop. Hannah soen die prentjie en pleit by Ouma om vir haar ook ’n lappop te maak.
Kort voor lank stik Ouma aan Hannah se begeerde lappop. Kwalik is die lappop klaar, of Hannah wil in alle erns speel.
Maar Ouma sê: “Hannah, speel nou vanoggend soet met jou boeke en legkaarte, dan maak Ouma gou vir jou kind ’n rok en broekie. Kom ons draai solank jou kind toe in een van jou popkomberse.”
Hannah speel huis-huis daar by Ouma in die naaldwerkkamer.
Sit kruisbeen op die rusbank en lees vir die lappop Sneeuwitjie; maak kamma-tee in die pienk teestelletjie. Ouma stik eenstryk, want sy moet regmaak vir die leeskring wat die aand daar vergader. Op ’n kol sien sy uit die hoek van haar oog ’n wilde woelery op die bank. Toe sy omkyk, is Hannah besig om die pop te ruk en te skud. Gee die pop ’n dwarsklap en ’n opstopper op die krop.
“Agge nee, Hannah, jy kan mos nie jou nuwe pop so. . .”
“Dis háár skuld, Ouma, sý’t eerste begin skoor soek!”
Ek wis nie wie soek skoor met wie in die kerkwêreld nie. Maar die ringkoppe moet die vyfde gebod onthou: Eer jou vader en jou moeder.
Dis een ding om te baklei vir die behoud van ons ou kerkmoeder se waardes en waardigheid. En ’n ander ding om die brose moeder rond te pluk in ’n magspel waarin daar ’n wenner móét wees.
Ons, die kerkkinders, moet haar oppas en eer terwyl ons kan, want as sy sterf en ’n eensame begrafnis het, sal daar ’n verlatenheid op hierdie aarde toesak.
- Volksblad