Die huwelik is en bly ’n brose gedoentenis
2012-01-23 21:34
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
ONLANGS woon ons ’n huwelikseremonie by. Verstom staar ek na die stralende paartjie en dink: Was ons ook so jonk? Het ons ook geglo die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles?
As ek terugkyk oor al die tye, is daar baie dinge in ons huwelik waaroor ek spyt is. Misverstande, dislojaliteit, ’n liegery, misbruik van mekaar se goedheid. Gevegte wat naby moord gedraai het.
Die anderdag kyk ek Crime & Investigation en sien hoe ’n vrou soos ’n riet geknak en haar man met brake fluid ewigheid toe gestuur het. Juis toe kom die gryse by die kamer in en ek dink wrewelrig oor sy gewoonte om strokies weg te smyt wat vir belastingsake bewaar moet word. Haak ek af: “Waar bêre jy die brake fluid? Of waar kan mens brake fluid koop?”
“Wat wil jy met brake fluid maak?”
“Uitwerk hoe ek jou gaan vergiftig, oor taksstrokies.”
Ewentwil. Die huwelik is en bly ’n brose gedoentenis. Jong egpare sê dikwels hulle het ’n huwelik waarin hulle niks vir mekaar wegsteek nie, ál hulle gevoelens op die tafel oopsprei. Pront, op die man af. Dis waar ek nie saamstem nie, want die een fout van ons huwelik waaroor ek die spytste is, is oor al die kere dat ek nie my woorde getel het nie. My raad aan jonggetroudes is om nie sommer wildweg harte uit te praat nie. Dink, en dink weer. Weeg, en weeg weer.
Wat gesê is, is gesê. Agterna kan jy sê jy’t dit nie só bedoel nie, of dit was ’n grap, of jy was opgetens.
Niks kan egter die bitsige woorde ongedaan maak nie. Soos: ek skaam my omdat jy ongeskeer rondloop! Het jy nie verstand in jou dik kop nie? Hoekom moet jy altyd alles opneuk? Jy’s net so pateties soos jou pa! Ek is lus en bogger-off, want jy’t net een ding op jou brein en dis jouself!
Harde woorde. Tog, nie raar nie. Die skade is permanent. As ek my huwelik weer kon begin, sou ek meer woorde verswyg, uit respek en deernis.
Want die uitspreek was tot niemand se voordeel nie; dit het net seergemaak en verkleineer.
Ek sal die goudskaal met groter oorleg gebruik, sodat ons eendag in vrede in mekaar se beskerming kan sit en hande vashou op die ouetehuisstoep.
- Volksblad